Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se Vredesmag - 18 Desember 2015

Hennie Symington

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ʼn oorwinnaar, Hy is nederig en hy ry op ʼn donkie. Sagaria. 9:9

Kom ons gaan kuier vandag in die Ou Testament by die profeet Sagaria. In die boek Sagaria beskryf die profeet ʼn weermag van engele: “dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.” (Sagaria 1:8-10) wat die aarde te perd patrolleer soos ʼn vredesmag. Op een plek beskryf hy ʼn toneel waar ʼn engel skoon klere aan ʼn priester wat ʼn besoedelde kleed dra, oorhandig, sy sondes vergewe en hom as tempelwagter aanstel (Sagaria 1:3-4). Hy praat ook van ʼn goue kandelaar met sewe kleiner lampies wat met olyfolie brand, en twee olyfbome (Sagaria 4:1-14) wat moontlik God se alsiende oog en die leiers wat God uitgekies het voorstel. Laastens praat hy van vier strydwaens (Sagaria. 5:1-8) en hulle drywers wat geeste is wat deur God uitgestuur word om die aarde in al vier windrigtings te patrolleer om sy werk te doen.

As enigeen van ons so ʼn droom sou hê, sou ons eerste reaksie vrees gewees het. Maar hier praat die profeet van herstel en wys hy op God se trou in die uitvoering van sy beloftes. Hy beloof om Israel en al die nasies terug te bring na Hom toe en dat God nie sy beloftes vergeet nie. Dit is ʼn boodskap van hoop, nie slegs vir die vlugtelinge nie maar ook vir die volk van God wat trek deur die woestynlandskap van die wêreld waarin ons leef. 

Die belangrikste voorspelling was egter die belofte dat beter dae in die vooruitsig was. Hierdie vergesig kan gesien word as ʼn simbool van die beloofde Messias wat sou kom en die sondevergifnis wat sou volg: "Daardie dag sal daar ʼn fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reining van hulle sonde … (Sagaria 13:1). Later lees ons in Johannes 4:14b: “Nee, die waters wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Klink vir my na goeie nuus!

Wat kan ons die redder van die mensdom bied in die jaar 2015 na sy geboorte terwyl die kerk tans figuurlik gesproke in ʼn staat van verwagting is terwyl ons die koms van Christus antisipeer? Alleen maar ons vreugde en dankbaarheid dat God sy Seun gestuur het as ʼn skild en ʼn beskerming in die onherbergsaamheid van die wêreld waarin ons leef. Mag u tydens Kersfees ʼn diepe vreugde en sekerheid ervaar van God wat naby aan ons gekom het toe Hy sy Seun gestuur het om aan ons te wys wat liefde is.

Gebed: Here, vir talle van ons is Kersfees ʼn tyd van goeie herinneringe. Vir duisende ander is dit egter ʼn dag van vervolging, verskrikking en doodslag. Ons bid vir die duisende Christene wêreldwyd wat sonder heenkome is en vlug vir hulle lewens terwyl ons U dank dat ons u geboorte in vrede en vryheid kan vier. Amen

Previous article: Reise na verlore paradyse - 18 Januarie 2016 Prev Next article: Om te ween vir die wêreld - 17 Desember 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.