Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 1: Nogtans... - 1 Februarie 2016

Tema vir die maand: Nogtans

Deur Benescke Janse van Rensburg

Dink vir ’n oomblik aan ’n tyd in jou lewe waarin jy ’n geweldige uitdaging beleef het (of dalk ’n reeks daarvan). Hoe het jou verhouding met God in hierdie tyd gelyk? Gee vir jouself ’n punt uit tien waar 0 ’n plek van totale godverlatenheid simboliseer en 10 ’n intieme verhouding met God.

Dink nou vir ’n oomblik aan ’n tyd in jou lewe waarin jy op jou gelukkigste was – en oorvloed beleef het. Gee weer vir jouself ’n punt uit 10 op hierdie skaal wat jou verhouding met God uitbeeld.

Waar lê jy vandag op hierdie skaal?

Verskil hierdie punte? Was dit dalk 9 of 10 in die moeilike tyd omdat jy God werklik nodig gehad het en sy aangesig dag en nag vir jou deurbraak gesoek het? En was dit dalk 3 of 4 in die goeie tye omdat jy so besig was met ander dinge dat jy nie tyd gemaak het om in God se teenwoordigheid te gaan sit nie?

In Suid-Afrika beleef ons tans ’n paar uitdagings. Sommige boere ervaar die ergste droogte in hul jare op die plaas. Ander ervaar die impak van die swak rand in die besigheidswêreld en nog ander beleef vrees vir die toekoms weens sekere politieke uitsprake. Het hierdie dinge ’n effek op jou puntetelling op die skaal?

In die boek Habakuk smeek die profeet God om nie van die Israeliete te vergeet nie – al het hulle van God afgedwaal en uitdagings begin beleef. Hy beskryf God se grootheid en wie God is en dan in Habakuk 3:17-19 lees ons sy bekende gebed: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” (1983-vertaling)

In ’n ander Bybelvertaling lees ons ook Habakuk se woorde as: “My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.” Hoe word jou puntetelling op die skaal geaffekteer deur goeie en slegte tye in jou lewe?

Kan jy werklik soos Habakuk sê dat selfs al beleef jy uitdagings in die vorm van siekte, finansiële nood, werkloosheid, hartseer, verhoudings wat dreig om op te breek of droogte op jou plaas, dat jy nogtans sal kies om in God te jubel en Hom as Redder te aanbid? Dit is wanneer ons dít doen, dat ons sy krag begin beleef. Hy sluimer en slaap nooit nie en niks is vir Hom onmoontlik nie. Kom ons nader tot Hom, want dan doen Hy dieselfde. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U liefde vir my. Help my om in die goeie en slegte tye my oë op U te hou met die wete dat U nooit verander nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Van die skrywer: Ek sien uit om hierdie maand saam met jou te kyk watter boodskappe God vir ons wil gee. Gebruik gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om my te vertel waar God onlangs vir jou iets groot gedoen het of sommer net as jy wil saamgesels oor die tema. Terugvoer is altyd wonderlik omdat jou getuienis dalk iemand anders kan inspireer om sterk te staan in ’n storm wat hul tans beleef. Groete, Benescke
Previous article: Dag 2: Nogtans sal ek glo - 2 Februarie 2016 Prev Next article: ʼn Nuwe hemel? Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.