Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 2: Nogtans sal ek glo - 2 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit was warm. Kokend. Inteendeel, die amptenare wat Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond moes gooi, het self omgekom. Tog, het die drie vriende geweier om hul knieë voor die afgodsbeeld in Babilon te buig.

Ester het daardie tree vorentoe gegee wat haar ongenooid in die koning se teenwoordigheid laat staan het, wetend dat, sou die koning nie sy septer na haar uitsteek as ’n bewys dat dit sy goedkeuring wegdra nie, sy kon sterf.

En Dawid het, met die vyf gladde klippe in sy sak en sy slingervel, na die 3-meter lange reus Goliat opgestap, wetend dat die veldslag enige kant toe kon gaan.

Drie aksies wat totale geloof en hoop in God geverg het omdat hul geen fisiese bewys of waarborg vooraf gehad het dat hulle dit sou oorleef nie. Luister weer na Sadrag, Mesag en Abednego se woorde van geloof in Daniel 3:17-18 wanneer koning Nebukadnesar hulle met die vuuroond dreig: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond . . . Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god . . . nie sal aanbid nie.” Ook in Ester 4:16 sê Ester aan haar oom Mordegai om die volk van Israel op te kommandeer om saam met haar te vas en te bid voordat sy na die koning gaan. Luister waarmee sy die gesprek afeindig: “Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” En in 1 Samuel 17:45-46 sê Dawid aan Goliat: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap.”

Beleef jy tans só ’n oomblik waar jy in geloof moet optree terwyl daar geen waarborg van ’n deurbraak in die toekoms is nie – dalk in jou werkplek, verhoudings, finansies of besluite oor jou toekoms? Luister weer na die woorde in Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Omdat Sadrag, Mesag en Abednego hulle oë op God gehou het, het Hy hulle sonder ’n geskroeide haar uit die vuuroond gered (wat koning Nebukadnesar tot bekering gebring het). God het Ester in staat gestel om vir die oorlewing van die Israeliete te pleit (die volk waaruit Jesus later gebore is). En God het Dawid gehelp om die reus se kop te vermorsel.

God kan dieselfde vir ons ook doen. Onthou egter dat ons geloof juis gedemonstreer word deur hoe ons optree wanneer daar geen fisiese bewys of waarborg is dat ons deurbraak op pad is nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my geloof en vertroue by voorbaat in U kan plaas omdat ek weet dat U die toekoms ken. Versterk my asseblief om staande te bly in daardie oomblikke wat onseker lyk of voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Previous article: Dag 3: Nogtans sal ek onthou dat God vir my veg - 3 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 1: Nogtans... - 1 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.