Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 6: Nogtans sal ek vasstaan - 8 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek hoor onlangs die storie van ’n paartjie wat opgewonde die bouplanne van hul eerste huis by die munisipaliteit laat goedkeur het. Gedurende die voorbereidingsproses waartydens die plot skoongemaak word voordat die fondasie gegrou word, het die bouers egter ’n hindernis beleef: Presies waar die leefkamer volgens die bouplanne moes kom was daar ’n hardnekkige rots in die grond.

Ná verskeie mislukte probeerslae om die groot, swaar rots uit die grond te grou, het die bouers die aftog geblaas. Die rots is behou en die leefkamer se bouplan is só aangepas dat die rots ’n fokuspunt in die vertrek geword het.

Ons beleef ook van tyd tot tyd uitdagings in ons lewens wat ons van stryk wil bring. Dalk is joune die feit dat jy die enigste gelowige in jou werkplek is en teenkanting juis weens jou geloof ervaar. Of dalk het jy slegte nuus oor jou gesondheid ontvang; bly jy werkloos al stuur jy hordes CV’s uit; het dit nog nie op jou plaas gereën al bid jy dag en nag vir verligting van die droogte; of het jul dalk onlangs daardie ongebore babatjie verloor waarvoor julle al so lank wag en bid. Hoe bid jy nou? Staan jy nogtans vas in jou geloof en vertroue in die Een wat voorsien?

In 1 Korintiërs 16:13 lees ons: “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” Ook in Psalm 125:1 skryf die Psalmdigter: “Die mense wat glo dat die Here hulle sal help, is soos die Sionsberg wat nie val nie en wat altyd daar is.” (Die Bybel vir Almal-vertaling) ’n Ander Bybelvertaling vergelyk só iemand wat in geloof bly vasstaan met ’n rots wat met geen hyskraan of koevoet beweeg kan word nie. Hy staan eenvoudig rotsvas.

Al voel jy soms te swak om selfs net een tree vorentoe te gee, kan jy weet dat God van jou situasie weet. In 1 Korintiërs 10:13 lees ons: “Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Ook in 2 Korintiërs 12:9 staan geskryf: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Mag ons soos daardie hardnekkige rots in geloof en vertroue vasstaan ten spyte van uitdagende situasies. Dit is immers juis wanneer ons die toets slaag en die deurbraak beleef, dat ons terugkyk op die moeilike tyd en dat dit ’n “fokuspunt” in ons geloofslewe word waaroor ons oor God se goedheid kan getuig. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U weet hoeveel ek kan hanteer en dat niks oor my pad sal kom wat ek nie met u hulp kan hanteer nie. Versterk my opnuut vandag en lei my deur u Heilige Gees met bonatuurlike wysheid wanneer ek dit benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

 

  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Previous article: Dag 7: Nogtans sal ek u loof - 9 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 5: Nogtans sal ek ’n loflied sing - 5 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.