Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 5: Nogtans sal ek ’n loflied sing - 5 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Twee dae gelede het elf boere in die droogtegeteisterde Williston-omgewing in die Noord-Kaap op die plaas, Rietfontein, bymekaargekom. Hoewel hul harte vol hoop was dat die beloofde trok met veevoer wel sou arriveer, was daar tog ’n tikkie ongeloof. Sou vreemdelinge werklik iets so waardevol bring? Plek-plek het van die boere se vee weens hongersnood begin vrek. Ander boere moes hul vee noodgedwonge uitsit omdat handelsbanke begin weier het om verder aan boere geld uit te leen om veevoer aan te koop weens hul opgehoopte skuld. Dít terwyl boere dag en nag na die gehuil van die honger diere op die plase moet luister – en soms selfs nie eens kos in hul eie huise het om op die tafel te sit nie.

Vanaf Maandag hierdie week het Tygerberg104FM, die gemeenskapradiostasie waarby ek in die Kaapse Skiereiland betrokke is, in samewerking met Adri Williams van ’n ander nie-regeringsorganisasie, ’n projek, SOS100, begin wat aan luisteraars die geleentheid bied om ’n bydrae te lewer om veevoer vir die boere in nood aan te koop. Omdat die vervoerkoste deur MAN Truck and Bus gedek is en Pick n Pay vir die boere en hul werkers geskenkpakke kruideniersware gee, kon elke sent wat luisteraars bydrae aangewend word om veevoer te koop wat na die boere in nood gestuur word.

Die aanvanklike hoop was dat ons ten minste teen die einde van die week een trok met 36 ton veevoer (wat R132,000 kos) gevul sou kry. Groot was die verbasing toe ons voor die einde van die ontbytprogram, waarby ek betrokke is, die nuus ontvang dat genoeg geld inbetaal is dat die eerste trok gelaai en gestuur kon word. Teen gisteroggend was daar meer as ’n miljoen rand inbetaal en 9 trokke is sovêr op pad om verligting te bring.

Met die verskyning van die trok wat afdraai na die plaas Rietfontein op Williston, het van die boere, ten spyte van die snikhete hitte van die Karoo, hoendervleis op hul voorarms uitgeslaan. Ander moes hard sluk om die knop in die keel weg te kry. In daardie oomblik het hulle besef dat God hulle desperate gebede gehoor het waar hul tussen hul honger diere rondgestap het of laatnag, alleen in hul plaashuise voor Hom gekniel het om na Hom om hulp te roep. God het nie net hul gebede verhoor nie, maar ook mense regdeur die land se harte aangeraak om te gee.

Voel jy vandag soos die boere wat op die plaas Rietfontein gestaan en wag het vir die trok. Hoewel die afwagting vir jou deurbraak daar is, kan jy nie help om soms twyfelgedagtes te ervaar omdat jy dit nog nie sien nie. In Psalm 43:5 skryf die Psalmdigter: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Ook in Romeine 12:12 lees ons: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.” Hoewel ons soms mismoedig mag voel as ons nie dadelik ’n antwoord op ons gebede kry nie, is dit belangrik om in die wagtyd te kies om nogtans aan te hou om ’n loflied tot God te sing, terwyl ons onsself herinner dat Hy ons Helper is. Hy hoor elke gebed wat ons bid. Ons lees immers in Openbaring 8 dat God se engele die gebede van die gelowiges regdeur die aarde bymekaarmaak en dat dit soos reukoffers voor sy troon opgaan.

Kan jy jouself indink watter glimlag op God se gesig moes verskyn het toe die trok by Rietfontein se hekke indraai? Sy kinders was gehoorsaam om te gee en die tyd vir verligting het vir die boere aangebreek. Jou “trok” is dalk ook op pad. Kom ons hou aan om God te loof en prys in die wagtyd – nie net vir wat hy kan doen nie, maar juis vir wie Hy is. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ons bid hoor en op U tyd verhoor. Help my asseblief om gehoorsaam te wees om u hande en voete te wees waar U my vandag benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir meer inligting oor die projek of om na videogrepe en foto’s te kyk, besoek een van hierdie skakels:
    • https://www.facebook.com/Tygerberg104FM/  
    • https://www.facebook.com/Stories-van-Hoop-118133410247/
    • www.benescke.co.za
Previous article: Dag 6: Nogtans sal ek vasstaan - 8 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 4: Nogtans sal ek op U bly vertrou - 4 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.