Dag 8: Nogtans is ek waardevol in U oë - 10 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
#345. Dít is die naam van die Ierse aartappel waarvan die gerekende fotograaf, Kevin Abosch, ’n tydjie gelede ’n foto geneem het. Groot was sy verbasing toe ’n onbekende sakeman uit Europa die foto van die aartappel (wat teen ’n gewone swart agtergrond geneem is), teen sy muur sien hang en ’n allemintige €1 miljoen (bykans R18 miljoen) aanbied om die foto te koop. Op die vraag of Kevin ooit gedink het dat die aartappel so waardevol sou word, het hy geglimlag en gesê dat hy nie eens die oomblik kon onthou waarin die foto geneem is nie, aangesien hy daardie dag soveel ander aartappels ook afgeneem het.
In ’n supermark betaal ’n mens vir ’n enkele aartappel, min of meer R3. Tog, in die regte hande, kan ’n R3-aartappel, R18 miljoen werd word.
In ons lewens gebeur dit ook soms dat, hoewel God ons met ontsaglike potensiaal geskape het, ons weens verkeerde besluite, teleurstellings of afbrekende woorde van mense wat veronderstel is om vir ons lief te wees, soms net R3 werd voel. Dit is waar die vyand ons wil hou. Aan die ander kant moet ons besef dat in God se hand daar geen beperking is op wat Hy in en deur ons lewens kan doen nie.
Kyk maar na Moses. Hy was ’n hakkelaar, maar God het hom gekies om as spreekbuis op te tree en die Israeliete uit slawerny te lei. Gideon was ’n bang soldaat met ’n minderwaardigheidskompleks, maar God gebruik hom om die Israeliete tydens ’n belangrike veldslag te lei. Dawid was ’n skaapwagter en die jongste van al sy broers, maar God kies hom as koning van Israel omdat sy hart reg was. En Ragab was ’n prostituut, maar God gebruik haar om die spioene se lewens in Jerigo te red omdat sy bereid en beskikbaar was.
In Handelinge 10:34-35 lees ons dat God nie ’n aannemer van persoon is nie. Hy het ons almal ewe lief en in Jeremia 29:11 sê Hy dat Hy vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teenspoed het nie. Ook die Psalmdigter herinner ons in Psalm 139:13-18 dat Hy ons as waardevol ag: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. . . Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. . . U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”
Die Ierse aartappel, #345, kon niks doen om meer waardevol te word nie. Dit was bloot op die regte tyd in die regte hande geplaas. Dag tot dag kyk God af aarde toe en Hy soek na mense wat bereid en beskikbaar is om as sy instrumente gebruik te word (2 Kron. 12:9). Mag ons opnuut besef hoe waardevol ons in sy oë is en mag ons onsself beskikbaar vir Hom stel. Doen ons dit, mag ons dalk verstom staan oor hoe Hy ons kom genees van seer, ons met nuwe selfvertroue kom vul en hoe Hy ons deur sy genade gebruik om groot, prominente en belangrike dinge vir Hom te vermag. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek U my oneindig lief het en dat ek waardevol in U oë is. Help my om nie my waarde in aardse besittings of prestasies te vind nie, maar in U. Genees my en gebruik my waar U my ook al vandag benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n foto van die Ierse aartappel, #345 op die sosiale netwerk, Fbook se Stories van hoop bladsy of klik op hierdie skakel: http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/photography/businessman-buys-photograph-of-a-potato-for-1m-a6831681.html
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
- As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.