Dag 9: Nogtans sal ek die wapenrusting aantrek - 11 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Kort na middernag verlede Saterdagoggend het Wicus en Adrie Scheepers op hul kleinhoewe in Pretoria-Wes wakker geword van hul honde wat blaf. Wicus het opgestaan om te gaan kyk wat aangaan. Net voordat hy die huis verlaat het, het Adrie hom herinner om sy koeëlvaste baadjie aan te trek. Dít het sy lewe gered.
Buite die huis het inbrekers Wicus twee keer in die rug geskiet en hom met ’n mes probeer aanval. Die koeëls is egter teen die baadjie vas en die mes het aan die materiaal van die baadjie vasgehaak. In ’n onderhoud met Netwerk24 ná die voorval het Wicus gesê: “As ek die baadjie nie aangehad het nie, was ek gone.” Hy glo egter dit was meer as net die baadjie wat hom gered het. “Die Here was dáár en Hy het my beskerm.”
In Efesiërs 6:12 herinner Paulus ons dat ons daagliks in ’n stryd is: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Hy gee ook aan ons raad oor hoe ons hierdie stryd moet aandurf in vers 13: “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”
Wat is hierdie wapenrusting waarvan Paulus praat – en hoe moet ons dit daagliks aantrek?
- Helm: Die vyand probeer sy uiterste bes om ons in ons gedagtewêreld aan te val in die vorm van byvoorbeeld gedagtes wat ons minderwaardig laat voel of waarmee ons ’n buite-egtelike verhouding regverdig of selfs wanneer ons onsself aan skinderstories verlekker. Ons sit egter die helm van verlossing op, wanneer ons God vra om ons gedagtewêreld rein te hou en terselfdertyd doelbewus verkeerde gedagtes vasvat en met God-geïnspireerde gedagtes vervang (Filippense 4:8).
- Borsharnas: Ons trek die borsharnas aan wanneer ons onsself herinner dat God ons deur Jesus se kruisdood van sonde vrygemaak het.
- Belt: Ons sit die belt om ons middel deur doelbewus die waarheid na te streef en in God se lig te leef.
- Skild: Ons tel die skild op om die aanvalle van die Bose af te weer, wanneer ons ons geloof onverskrokke in God plaas – al sien ons nog nie ’n deurbraak in ’n bepaalde situasie nie.
- Skoene: Ons trek die skoene aan deur God te vra om ons deur sy Heilige Gees te lei om met selfvertroue van sy goedheid te getuig en ander verlore mense na Hom te lei.
- Swaard: Ons tel die swaard op wanneer ons God se beloftes in ons hart bêre en daarop mediteer. Wanneer die vyand ons kom aanval, kan ons, net soos Jesus eens in die woestyn toe die vyand hom probeer versoek het, sê: “Daar staan geskrywe...” terwyl ons God se onveranderde beloftes aanhaal. God se Woord is ons wapen in die stryd.
As gelowiges is ons nie gevrywaar van uitdagings wat ons pad mag kruis nie. In donker tye word dit selfs nog belangriker om die wapenrusting aan te trek omdat ons daarsonder geen weerstand kan bied nie. Wicus Scheepers het beleef hoe die koeëlvaste baadjie sy lewe gered het. Kom ons maak seker ons trek daagliks God se wapenrusting aan sodat ons ook kan sê: “As ek die baadjie nie aangehad het nie, was ek gone, maar God was dáár en Hy het my beskerm.” Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u wapenrusting. Lei my asseblief vandag om my gedagtes rein te hou, my geloof en vertroue in U te plaas, die waarheid na te streef, my geloof en vertroue in U te plaas en bereid te wees om as ’n instrument in u hand op te tree en U woord my wapen te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na ’n foto van Wicus Scheepers by www.benescke.co.za of volg hierdie skakel: http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/pantser-baadjie-red-my-20160208
- Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.