Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 11: Nogtans sal Hy my beskerm - 15 Februarie 2016

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek kyk Vrydag na ’n foto in Die Burger van ’n eensame branderplankryer diep in die water naby Strandfontein, buite Kaapstad. Die fotograaf vertel dat hy vir bykans vyf minute bó die branderplankryer in sy girokopter gehang het om die foto te neem en dat hy in hierdie tyd bykans vyf haaie binne 100m van die branderplankryer gesien het. Hoewel een van die haaie reg onderdeur die bord van die branderplankryer geswem het, was dié duidelik onbewus van hul teenwoordigheid. (Kyk na die foto hier: http://www.netwerk24.com/Nuus/kyk-5-haaie-1-branderryer-20160212)

Die vyand is daarop uit om te steel, slag en verwoes (Johannes 10:10). Hy soek na maniere om ons seer te maak en gebruik gereeld “haaie” om ons lam te lê. Hierdie “haaie” kom in verskillende vorms, insluitende uitdagings in die werkplek, dreigemente van bankrotskap, skinderpraatjies met die doel om ons karakter te beskadig, flirtasie van iemand buite jou huwelik, konflik met ’n geliefde of selfs ons kinders wat by die skool geboelie word. Die “haaie” vul ons met onrustigheid en vrees.

Een ding wat ons egter moet onthou is dat God, soos die fotograaf in die girokopter, ’n ander perspektief op ons lewens het. Hy sien die “haaie” – selfs daardie waarvan ons steeds onbewus is. In Psalm 33:13-14 lees ons: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.”

God sien nie net die haaie nie, Hy beskerm ons ook daarteen. In Jesaja 41:10 lees ons: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” In Psalm 23:4 lees ons: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie. . .” Ook in Psalm 121 staan geskryf: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Mag ons hierdie week ingaan met die wete dat God ons Beskermer is. Hy plaas ’n staalhok om ons om ons te beskerm wanneer dit voel asof ons diep in die water op die branderplank sit en gevreesde haaie reg op ons afswem. Kom ons dank Hom daarvoor. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my Beskermer is en dat geen planne van die vyand (soos die haaie) vir U verborge is nie. Beskerm my asseblief vandag en help my om nie in vrees te leef nie, maar my geloof en vertroue in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Previous article: Dag 12: Nogtans sal ek tot Hom nader - 16 Februarie 2016 Prev Next article: Dag 10: Nogtans sal ek gehoorsaam bly - 12 Februarie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.