Dag 12: Nogtans sal ek tot Hom nader - 16 Februarie 2016
Deur Benescke Janse van Rensburg
Op die markplein in Galilea, sluit die bleek vrou haar oë vir ’n oomblik, terwyl sy diep asemhaal. Haar duiseligheid dreig-dreig om haar te oorweldig. Reeds vir twaalf jaar lank bid sy vir ’n deurbraak. Vir genesing. Vir ’n lewe sonder bloedvloeiing. Sy het reeds al haar besittings verkoop om dokters te gaan spreek. Niemand kon haar help nie. Soos sy haar oë weer oopmaak, kyk sy vir oulaas na Jesus ’n paar meter weg van haar, tussen die mense op die plein. Sy weet wat sy moet doen. Gedetermineerd, sak sy op haar knieë af. Al vat dit ook haar laaste krag, vandag sal sy aan hierdie Man se kleed raak.
Laatnag, voor ’n deur in Betanië, staan ’n vrou met ’n hart wat vinnig klop. Het sy ’n fout gemaak om hierheen te kom? Die skuldgevoel van haar sondige lewe en verkeerde besluite, rus swaar op haar skouers. Wat as Hy haar wegstuur? Sy haal nog eenmaal diep asem, dan stoot sy die deur oop en stap tot by Jesus. Terwyl sy voor Hom kniel, stroom trane van berou oor haar wange. Sal Hy haar genadig wees? Dan breek sy die albaste fles oop en salf sy voete met duur reukolie wat sy met haar laaste geld gekoop het.
Twee desperate vroue, op hul knieë voor die enigste Een wat aan hulle genade kan betoon en genesing kan bewerkstellig. Hoewel nie een van hulle ’n waarborg het van hoe die situasie gaan uitspeel nie, neem hulle in geloof ’n stap in Jesus se rigting.
In Lukas 8:46-48 lees ons dat die vrou op die markplein aan die soom van Jesus se kleed raak. Onmiddellik was sy genees. Jesus het omgedraai en gevra: “Wie het aan my geraak?” Vir sy dissipels was dit ’n vreemde vraag omdat hordes mense aan hom gedruk en stamp het om nader aan Hom te kom. In Lukas 8:46 sê Jesus egter: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” Wanneer Jesus se oë met die vrou sin ontmoet, val sy in vrees voor Hom neer, terwyl sy vertel hoekom sy dit gedoen het. In stede van verwyt, is daar liefde in Jesus se oë, wanneer Hy sê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” (Lukas 8:48).
In Lukas 7 lees ons dat die vrou wat Jesus se voete met reukolie gesalf het, heel moontlik verdere straf verwag het, weens haar slegte reputasie. Selfs die man aan wie se huis hulle was, het gewonder hoekom Jesus dit toelaat. Omdat Jesus sy gedagtes geken het, sê Hy: “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” Hierna het Jesus na die vrou gekyk en gesê: “Jou sondes is vergewe” (Lukas 7:47-48).
Twee vroue het God se onverdiende genade beleef omdat hulle sy aangesig gesoek het. In Jakobus 4:8 lees ons immers: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” En in Jesaja 1:18 sê God: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”
Smag jy vandag, soos hierdie vroue, om God se genade in jou lewe te beleef? Kom ons neem die stap van geloof in Jesus se rigting. Hy het aan hul genade bewys. Hy sal dieselfde vir jou ook doen. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u genade wat ons elke dag onverdiend ontvang. Help my asseblief om nie langer na die vyand se leuens te luister dat U u rug op my sal keer nie, maar om met vrymoedigheid na u troon te hardloop. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
-
Vir kommentaar of terugvoer op die reeks, stuur gerus jou e-pos aan
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
-
As jy ’n getuienis het van wat God onlangs in jou lewe gedoen het, deel dit gerus by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.