Gebed van ʼn ondankbare koning - 5 April 2016
Hennie Symington
Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oё. Hiskia het bitterlik gehuil. Jesaja 38:2-3
Van al die Ou Testament konings word Hiskia beskou as een van die bestes. Volgens die Skrif was nie een van die konings voor hom so na aan God soos hy nie. Halfpad deur sy lewe het Hiskia egter ernstig siek geword en is deur die profeet Jesaja ingelig dat hy sou sterf.Toe Hiskia dit hoor, het hy bitterlik gehuil en God gesmeek om hom gesond te maak. God stuur toe vir Jesaja om die koning in te lig dat hy nog vyftien jaar sou leef.
Hoe reageer Hiskia hierop? Hy het God nie gedank of geloof nie. In plaas daarvan eis hy dat Jesaja bewys moet lewer dat sy gesondmaking van God gekom het. En tydens ʼn besoek van sekere belangrike leiers, het God hom dopgehou om te sien of hy sou getuig oor sy gesondmaking. Maar verniet.
Jesaja het toe weer besoek gebring aan Hiskia met die nuus dat hy binnekort weggevoer sou word en dat sy seuns slawe van die Babeloniese koning sou word.
Die verhaal van Hiskia herinner ons dat God ʼn genadige God, maar niemand se “hansie-my-kneg” is nie. As God ons gebede beantwoord is die minste wat ons kan doen om Hom te eer.
Gebed: Here, soms wil ons glo ons is die alleenbeskikkers van ons lewe en vergeet dat U die gewer en die onderhouer van die lewe is. Leer ons om U te erken as God almagtig. Amen