Om in alle omstandighede steeds te bid - 6 April 2016
Hennie Symington
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Habakuk 3:17-18
Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar want dit is wat God in Christus van julle verwag. 1 Tessalonisense.5:17
Die treurmare van die mensdom in die tye waarin ons leef, is eindeloos. Daar is seker nie ʼn mens onder ons wat nie sat is vir die dinge wat ons moet verduur of aanskou nie. Vir sommige is dit hulle werk, vir ander hulle huwelike, of die situasie in die land en in die wêreld. En natuurlik is daar genoeg dinge om te vrees. Ons hoor van oorloё en gerugte van oorloё, natuurrampe, aardverwarming en aardbewings. Gʼn wonder dit voel asof die wêreld op die rand van ʼn massa-senuwee-ineenstorting afstuur nie.
Die slegte nuus is egter dat hierdie klagtes niks nuuts is nie. En as jy jou gedagtes wil verfris, lees gerus hoe die profeet Habakuk wat sy klagtes tot by die hoogste gesag neem en vra: "Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?: Habakuk 1:2.
Dit is egter ʼn tweerigtinggesprek. Hy wag op God se antwoord. En God stel hom nie teleur nie. God antwoord, die goddeloses sal op die aangewese tyd gestraf word maar intussen moedig God Habakuk aan om vas te hou aan God se beloftes ongeag van hoe donker die tye is. Hy belowe hom:”Soos die waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.” Habakuk 2:14
Gebed: Here, wees by ons wanneer dit voel asof die wêreld rondom ons skeur en niks meer vir ons sin maak nie. Dankie vir die versekering uit u Woord dat U in beheer is van die vroegste tye tot vandag. Amen