Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoe moet ons dan bid? - 12 April 2016

Hennie Symington

Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.  Matteus 6:6

Die Gebed van Christus of die “Onse Vader” soos wat dit in die volksmond bekend staan, is oorspronklik gebid in Aramees, ʼn taal wat aan Hebreeus verwant is en heel waarskynlik Jesus se moedertaal was. Sedert die tyd van Augustinus in die vierde eeu, is die gebed op ʼn didaktiese wyse gebruik om volgelinge van “Die Weg” te leer oor gebed.

Die manier waarop die gebed saamgestel is, is in sterk kontras met die wyse waarop die Jode hulle gebede gebid het. Hulle het naamlik op straat en in die sinagoges gestaan en bloot gebede afgerammel om deur ander gesien te word. In teenstelling daarmee bied Jesus aan ons hierdie gebed as ʼn private gesprek met ons hemelse Vader, wat ons daaraan herinner dat God ʼn God van relasies is en wat die mens se hart en sy diepste gedagtes ken. Hy herinner ons ook dat “ons Vader weet wat ons nodig het nog voor ons Hom gevra het”(v. 8).

Die Onse Vader is tradisioneel opgedeel in die inleiding, “Onse Vader, wat in die hemel is,” gevolg deur sewe petisies. Die eerste drie word gerig aan God en gee iets te kenne van sy karakter ("Laat u Naam geheilig word") en oor die koninkryk ("laat u koninkryk kom"; "laat u wil geskied"). Hierin lê ʼn opdrag om ons aan God se saak toe te wy en om te bid dat sy koninkryk sal heers in die hemel op aarde.

Gebed: Ons Vader, hoe arm sou ons nie gewees het sonder hierdie gebed wat deur u Seun aan ons gegee is as daaglikse brood vir die siel. Dit was en is steeds die anker en kompas in ontelbare menselewens deur die eeue. Amen

Previous article: Onse Vader as ons Pappa - 13 April 2016 Prev Next article: Op Christus se gebedslys - 11 April 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.