Onse Vader as ons Pappa - 13 April 2016
Hennie Symington
“Ons Vader … " Matteus 6:9
Die woord wat Jesus gebruik vir “vader” is die Arameese woord abba wat letterlik “pappa” of “pappie” beteken. As ons dus die “Onse Vader” bid, praat ons met God op ʼn baie intieme wyse – nie as ʼn vreemdeling nie, maar as naby familie. Dit is juis hierdie verrassende intimiteit wat Jesus aan sy volgelinge probeer oordra wanneer Hy hulle hierdie gebed leer.
Die benaming "Vader"vertel ons meer van God as skepper, en beskermer wat almagtig en alwetend is, met ʼn onmeetbare mag en gesag wat ver bo ons verstaan is.
Tog, wanneer Jesus die woorde “Ons Vader” gebruik, sê dit nog iets oor ons verhouding met God. Ons is nie slawe of bediendes wat hulle meester dien ter wille van ʼn paar stukkies geld nie. Hy stel dit onomwonde dat God ons Vader is.
Die woordjie “ons” impliseer ook dat God nie net my vader is nie, maar almal se vader is. Ons kan dus niemand uitsluit uit God se liefdevolle sorg nie en sommige beskou as “in” en ander as “uit” nie. Dit is vir God in sy groot genade om daaroor te beskik.
Gebed: Dankie Here dat U as ons hemelse Vader vir ons ʼn gebed nagelaat het wat al u kinders deur alle tye en dwarsoor die wêreld omarm. Amen