Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 Desember

Kry ʼn “make-over” vir Kersfees

Hennie Symington

Skriflesing

Dit verseker ek julle: As ʼn koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe bring hy ʼn groot oes. Joh. 12:24

Vir baie van ons het ʼn groef ons natuurlike manier van bestaan geword. Ons hou nie van verandering, nie ons wil nie verander nie en ons sien nie hoekom ons moet verander nie. Ons glo ʼn jakkals kan nie van streke verander nie en jy kan nie ʼn ou brak nuwe wee leer nie.

Nou toe! Ek wonder wat dink God van hierdie woorde. Om te glo dat ʼn rowwe diamant so gemaak en so gelaat staan is, ontken ʼn mens die krag van die geloof om radikale verandering in jou lewe te weeg te bring.

Wanneer ʼn mens binne die parameters van die Christelike geloof beweeg, gaan dit nie oor hoe jy is en wat jy is nie, maar wat jy kan wees. En so sterk het God daarin geglo dat verandering moontlik is, dat Hy letterlik hemel en aarde versit het om ons die moontlikheid op verandering te bied. Hy het toegelaat dat die hemel aan die aarde raak toe Hy sy Seun in ʼn stal laat gebore word van ʼn aardse moeder. Dit doen Hy sodat ons ons ware menslikheid kan terugkry.

Kerstyd verander jou

Kerstyd is die seisoen vir verandering. As jy gewoond is om almal met jou ongeduld te ontsenu, is dit nou die tyd om verdraagsaamheid aan die dag te lê. As jou vinnige humeur niemand ontsien nie, is dit nou dit tyd om ʼn sagter aanslag te kweek. As jy nie tyd vir behoeftiges het nie, het dit nou tyd geword om hulle te ontmoet in God se bedeling waar selfs die geringstes tel. Jou erfsondes of aangekweekte trots kan jy die Kersfees maar by die Verlosser se krip loop los. Jy kan nuut word. Jy kan wees hoe God jou bedoel het om te wees, geslyp deur die Meesterslyper om al jou mooiste kante te belig.

Mag die Kind jou opnuut opgewonde maak oor die moontlikheid om uit jou groef te gly.

Gebed:

Here, soms is ek so trots op hoe ek is, foute en al. Maak my bereid om hierdie kersfees nuut gebore te word. Amen

Previous article: Vers n dag - 13 Desember Prev Next article: Vers n dag - 9 Desember Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.