Tweede petisie - 18 April 2016
Hennie Symington
….. laat u koninkryk kom ..Matteus 6:10
Dwarsdeur die Ou en die Nuwe Testament raak ons bewus van ʼn groot verlange na ʼn tyd wanneer God in volle mag en glorie sal regeer. En nog meer so in die tye waarin ons leef. Ons verlang na God se koninkryk hier by ons, wat deur reg en geregtigheid en liefde regeer sal word, en waar oorlog, armoede of eensaamheid nie meer sal wees nie.
Die petisies in die “Onse Vader” impliseer dat wanneer ons bid, ons op een of ander manier dit wat rondom ons gebeur, beїnvloed en dat ons gebede dit waarvoor ons bid te weeg sal bring. Die moeilike ding om te verstaan is dat God se antwoorde op ons gebede soms nie is wat ons verwag het nie. By tye wil ons selfs aan God voorskryf hoe ons gebede beantwoord moet word.
Maar, wanneer ons bid ontvang ons nuwe insig en diepte in ons geloof, in ons verhoudings met ander, sowel as die dinge wat in ons eie lewens gebeur. Deur die manier waarop ons met ander mense en ons wêreld omgaan, reflekteer ʼn stukkie hemel op aarde – miskien nie op God se volmaakte manier nie, maar deur ons nederige diens in sy koninkryk.
Gebed: Liewe Here, my gebed is dat ek my met hart en siel so sal instel op u teenwoordigheid in my lewe, dat die lig van u ewige en alomteenwoordige koninkryk my siel sal verhelder. Amen