Vierde petisie - 20 April 2016
Hennie Symington
Gee ons vandag ons daaglikse brood … Matteus 6:11
Hierdie, op die oog af, eenvoudige petisie is ʼn gebed wat ten diepste te doen het met ons daaglikse lewensmiddele en voedsel vir die dag. Toe Jesus hierdie gebed gebid het, het Hy waarskynlik iets baie eenvoudig in gedagte gehad – dat ons afhanklik van God moet wees vir wat ons nodig het. Selfs as ons werk om ons daaglikse brood te verdien, soos die meeste van ons, kom dit steeds as ʼn gawe van God.
Op ʼn minder konkrete vlak, beteken dit om te vra vir ons daaglikse brood, en ons te herinner om nie op te gaar vir die dag van more, of die volgende jaar nie, maar om eenvoudig te leef in vertroue dat God in ons behoeftes al voorsien. Die Israeliete het hierdie lessie op die harde manier geleer toe hulle aangesê is om nie die manna te bêre tot die volgende dag nie. Natuurlik kan ons nie net bid en gaan terugsit en wag dat God die brood of ander lewensmiddele by ons voordeur aflewer nie. Maar dit beteken tog dat ons Hom kan vertrou vir ons mees basiese behoeftes.
Hierdie gebed beteken ook om nie net vir onsself te bid nie. Wanneer ons hierdie gebed bid, roep dit ons ook op tot aksie. Deur jou toedoen kan jy die antwoord op ʼn ander se gebed vir ʼn stukkie brood wees. Trouens, alle Christene het die opdrag om die hongeres te voed en die naaktes te klee. Elkeen van ons word opgeroep om die opbrengs van die aarde so te verdeel dat elkeen sy “daaglikse brood” kan ontvang.
Gebed: In ʼn wêreld waar ʼn geringe persentasie van die wêreld se bevolking die oorgrote meerderheid van die wêreld se bronne verbruik, word ons geroep om ons hande en harte oop te maak vir diegene wat uitgelewer is aan omstandighede waar hulle nie vir hulleself kan sorg nie. Amen