Vyfde petisie - 21 April 2016
Hennie Symington
… en vergewe ons ons oortredings, net soos wat ons ook die vergewe wat teen ons oortree. Matteus 6:12
In die wêreld waarin ons leef geld die reёl “ʼn oog vir ʼn oog” steeds. Ons sien dit op die televisie, ons sien dit in die geweldsiklusse in die gemeenskappe rondom ons, in ons eie tuistes, en in ons verhoudings met ander. As ons dus vir God vra om ons te vergewe soos ons ander vergewe, wat bedoel Hy nou eintlik? Bedoel Hy dat God ons sondes vergewe slegs as ons diegene vergewe wat ons te na gekom het?
Wat as ons nie kan vergewe nie? Beteken dit dat God ons ook nie sal vergewe nie? Dit wil amper so voorkom as ʼn mens hierdie petisie in die Onse Vader lees. Trouens, Jesus sê selfs direk nadat Hy dit gesê het: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. (Matteus 6:14-15)
Dit klink baie hard op die oor wanneer ons hierdie gedeelte van die Onse Vader lees. Hoe moet ons dit interpreteer? Toe Jesus ons hierdie gebed geleer het, het Hy duidelik gesien dat diegene wat nie van hulle seerkry, ongeag hoe erg dit is, en wrokke kon afskeid neem nie, daardeur verteer sal word. Dis slegs wanneer ons ons kan losmaak van haat en die sug na vergelding dat ons ontvanklik kan wees vir die helende aanraking van God.
Gebed: Here, om te vergewe is seker die moeilikste ding op aarde vir die mens om te doen. Lei my op die pad van vergifnis, nie net ter wille van ander nie, maar ook myself. Amen.