Sewende petisie - 25 April 2016
Hennie Symington
… maar verlos ons van die Bose Matteus 6:13
Hoe versoek Jesus die Vader om ons te bewaar teen die bose? In Johannes 17:15 bid Hy: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.”
God weet en ons weet dat daar ʼn bose mag is wat boosheid as sy stategie gebruik. Jesus bid dus spesifiek dat sy mense teen hierdie bose mag bewaar moet word. Want agter die versoeking staan daar die versoeker, agter die leuen staan die “vader van die leuen”, en agter al die dood en bloedvergieting staan “die moordenaar vanaf die begin” af (Johannes 8:44).
Hoe sal Jesus ons teen die bose bewaar? In Johannes 17:17 bid Hy vir sy dissipels: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.”
Die teenmiddel teen elke leuen, is die waarhede wat in die Bybel geskryf staan. Trouens, daar is geen ander verweer nie. As valsheid dus die modus operandi van die bose en die vader van die leuen is, dan maak God se waarheid ons vry.
Gebed: Here, ons swig gedurig voor die boosheid in ons eie hart wat skeiding bring tussen U en die wat ons liefhet. Wanneer ons leuens vertel gee ons die bose vatplek in ons lewens. Help ons om leuens te onderskei van die waarheid. Amen