Vers n dag - 14 Desember
Geskikte geskenke?
Hennie Symington
Skriflesing
Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud, wierook en mirre. Mt 2: 11b (Ou Vertaling)
Dis die einde van die jaar en ons verwagtinge vir ʼn vreedsame en rustige kersfees loop hoog. Maar pasop, vir die slang in die gras. In ons koppe begin ons almal reeds lysies maak van alles wat ons vir Kersfees wil hê.
Sommige van ons beskou dit as payback time vir alles alles wat ons die afgelope jaar vir almal gedoen het terwyl ander ernstig kopkrap vir geskikte geskenke vir hul geliefdes.
Wat kry Jesus vir kersfees?
Het jy al ooit gedink oor die geskenke wat Jesus daardie eerste kersfees gekry het?
Goud – die teken van koningskap. As koning van die hemel en die aarde moes Hy ʼn goue kroon dra maar dra uiteindelik ʼn doringkroon.
Wierook – dit word gebruik tydens die verbranding van die offergawe en dui op Jesus se priesterlike amp. Daarmee saam dui dit ook op die offer wat hy gebring het.
Mirre – toe hulle die mirre voor Jesus lê, het daar waarskynlik ʼn koue rilling deur sy ouers se harte gegaan, want mirre word gebruik om die dooies mee te salf. Die geskenk is egter ook profeties.
Besoek van die Herders – hulle geskenk was hulle vreugde oor die die Kindjie wat in die krip lê.
Jou geskenk aan Christus
Die beste geskenk wat jy aan Christus kan gee, is om sy beeld uit te dra in ‘n wêreld wat vergeet het wat die ware betekenis van kersfees is.
Gebed
Here Jesus, Kersfees sonder U is soos ʼn kersete sonder smaak. U is die onmisbare, die ewige, die wonderbaarlike God wat mens geword het. Amen.