Vers n dag - 15 Desember
Daar ver in ʼn krippie ...
Hennie Symington
Skriflesing
Daar was skaapwagters ... wat op die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Luk. 2:8
Die nag was koel en die windjie was fris. Die grond waarop hulle geslaap het was hart, en die sterrenag was hulle enigste bedekking daar waar hulle wag gehou het oor hulle skape wat rustig in die donker slaap.
Skielik lyk dit asof die skape meer sigbaar word in die donker – dis asof die lug herlderder is. Dan, in ʼn oogwenk skyn daar ʼn oorweldigende lig wat die nagtelike hemel verlig. En in die lig staan ʼn engel wat ʼn wonderlike boodskap aan hulle verkondig: “Vandag is daar vir julle ʼn Redder gebore en julle sal hom vind waar hy in doeke toegedraai lê in ʼn krip.†(Luk. 2:11)
Hulle kon nie wag om te gaan kyk nie. En wat kry hulle? Presies wat ek en jy steeds vind: God in die vlees. God as mens. God Immanuel. God het na ons toe gekom – so naby dat Hy soos ons kon wees. So naby dat ons Hom kan omhels. God het ʼn kind geword sodat Hy ons kon teruglei na ons Vader.
Wanneer die lewe weer sy vaal kleed oor jou kom sprei, en niks vir jou mooi is nie, onthou die Een wat tussen die diere in ʼn stal gebore is. Wanneer dit weer vir jou voel asof jy nêrens hoort nie, onthou die een wat moes vlug voor sy eie mense. Wanneer dit vir jou voel as niemand jou hulpgeroep hoor nie, onthou die Een wat in lappe toegeraai in ʼn stal gehuil het.
Een nag, twee duisend jaar gelede het ʼn paar armsalige skaapwagters iets gevind wat hulle wildste drome oortref het. Iets wat ons ook kan vind: die pad na God deur ʼn krip.
Gebed
Welkom, o stille nag van vrede,
onder die Suiderkruis,
wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
Koos du Plessies (Liedboek van die Kerk nr. 358).