Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ons ken nie die pad vorentoe nie - 5 Mei 2016

Neville Turley

'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Spreuke 16:9

Meeste van ons koester drome en ambisies wat nie altyd bewaarheid word nie. As gelowiges moet ons egter onthou dat God in beheer van ons lewens is en dat Hy ons op hierdie aarde geplaas het om Hom te dien en nie onsself nie.

Miskien het jy 'n brandende begeerte om sukses op 'n spesifieke gebied te behaal, maar dit sal leeg wees as dit teen God se wil vir jou lewe is. Dit is slegs wanneer ons ons aan God se heerskappy onderwerp en in gehoorsaamheid aan Hom leef, dat ons ware vrede vind.

Koning Dawid het ook 'n brandende begeerte gehad wat, ongeag die feit dat hy vir 40 jaar op die troon was, nooit bewaarheid is nie. Nadat sy leër Jerusalem binnegeval en die Jebusiete verslaan het, het Dawid daar gaan woon en die verbondsark na die stad gebring.

Dawid se brandende begeerte was om 'n pragtige tempel te bou om die ark te huisves.

Dit het egter nie gebeur nie.

God het aan Dawid geopenbaar dat, omdat hy te veel bloed laat vloei het en groot oorloë gevoer het, hy nie die tempel mag bou nie, maar dat hierdie voorreg sy seun, Salomo, 'n man van vrede, sou toekom. God het Dawid belowe dat Hy, terwyl Salomo op die troon is, vir Israel 'n tyd van rus en vrede sou gee. (1 Kronieke 22:6-9)

Mense raak dikwels so gegrief en verbitterd wanneer 'n droom of ambisie nie bewaarheid word nie. Dit was egter nie die geval met Dawid nie. Aangesien Salomo nog jonk en onervare was het Dawid solank vir hom voorbereidings getref en planne gemaak wat Salomo sou help om eendag wanneer hy koning word, die tempel te kan bou. (1 Kronieke 22:5)

Dawid is 'n rolmodel wat ons gerus kan navolg. God se planne is nie noodwendig ons planne nie. Wanneer ons begeertes en ambisies gedwarsboom word, moet ons net rus in die wete dat God die beste weet en dat deur Hom te volg ons eendag die poorte van die hemel sal binnegaan.

Gebed: Almagtige God skenk aan ons, soos aan Dawid, die genade om u wil vir ons lewens te aanvaar en deur ons dade U te verheerlik. Amen

Previous article: 'n Belofte en 'n waarskuwing - 6 Mei 2016 Prev Next article: Die groot belofte aan die mensdom - 4 Mei 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.