'n Belofte en 'n waarskuwing - 6 Mei 2016
Neville Turley
en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 2 Kronieke 7:14
Koning Salomo het op die jong ouderdom van 12 sy pa as koning opgevolg. Hy het die planne en voorbereidings wat Dawid vir hom nagelaat het, gevolg en begin om die tempel te bou.
Twintig jaar later was die pragtige tempel sowel as sy paleis voltooi tot Salomo se bevrediging. Dit is toe dat die Here aan hom verskyn het met die belofte in ons vers vir vandag.
Die belofte was egter verbind aan 'n waarskuwing. Indien Salomo wegdraai van God se voorskrifte en gebooie, sal God Israel wegdryf uit die land wat Hy aan hulle gegee het en die tempel sal weggevee word. (2 Kronieke 7:19-21)
Salomo se bewind was die goue era van die koninkryk van Israel, maar in dit self het dit die kiem van vernietiging gedra.
Salomo se baie buitelandse vrouens het 'n negatiewe invloed op sy geloof gehad. "Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie." (1 Konings 11:4)
Salomo se rykdom was ongekend, maar tog moes sy onderdane baie belasting betaal. Toe sy seun Rehabeam hom opgevolg het, het hy die belastinglas nog groter gemaak.
Israel het gerebelleer. Tien van die 12 stamme het Rehabeam as koning verwerp. (1 Konings 12:16). Hulle het Jerobeam wat afgode aanbid het, as hulle koning verkies.
Vier honderd jaar na die tempel gebou is, het die Babiloniërs Jerusalem binnegeval. Die stad is van al sy rykdom beroof. Baie mense is doodgemaak en ander is as slawe weggevoer. Salomo se tempel is geheel en al verwoes.
Hierin is 'n les vir ons almal. Ons kan nie met God speel nie. Indien ons sy beloftes ons eie wil maak moet ons nie nalaat om sy bevele te gehoorsaam nie. Die Heilige Gees sal ons wys hoe om dit te doen.
Gebed: Hemelse Vader, vergewe ons ons baie sondes en gee aan ons 'n gees van gehoorsaamheid. In die Naam van Jesus bid ons dit. Amen