Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die beloofde Messias bring 'n nuwe bedeling - 10 Mei 2016

Neville Turley

Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem  Hebreërs 9:24-26

Die hoogtepunt van aanbidding in die tempel in Jerusalem het een keer 'n jaar op die Dag van Versoening (Jom Kippoer) plaasgevind. Slegs op daardie is die hoëpriester toegelaat om agter die gordyn in die Allerheiligste deel van die tempel in te gaan. Daar moes hy 'n bloedoffer aan God bring ter versoening van die sondes van die mense. "Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is" Levitikus 17:11

Matteus het vir ons opgeteken dat toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. (Matteus 27:51)

Dit was nie langer nodig vir 'n hoëpriester om elke jaar 'n bloedoffer te bring ter vergifnis van sondes nie. Jesus het sy lewensbloed gestort om vergifnis van sondes en verlossing te verseker vir almal wat Hom as Verlosser bely. Dit het meegebring dat voortaan kan al God se kinders deur sy Seun, Jesus Christus, direkte toegang tot Hom kry. Jesus is ons Hoëpriester wat selfs op hierdie oomblik in die hemel by die Vader vir ons intree.

Op die plek waar Salomo se tempel eens was, asook die tweede tempel wat Herodus herbou het, is daar vandag 'n Islamitiese moskee. 'n Mensgemaakte tempel in Jerusalem is nie noodsaaklik vir ons geloof nie, want deur die genade van God is ons sy tempel en sy Gees leef in ons. (1 Korintiërs 3:16). Eer aan God, Halleluja.

Gebed: Almagtige God, gee dat die Heilige Gees ons harte en verstand sal reinig sodat wanneer ons Here Jesus Christus weer kom, ons gereed sal wees om Hom te ontvang. Amen

Previous article: Wees versigtig vir vals beloftes - 11 Mei 2016 Prev Next article: God se wonderlike versekering - 9 Mei 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.