God se wonderlike versekering - 9 Mei 2016
Neville Turley
En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige. Sagaria 1:3
Soms gebeur daar dinge in ons lewens wat ons nie verstaan nie en dit kan tot 'n geloofskrisis lei.
Dit is dan wat ons die woorde soos vir ons opgeteken in Jesaja, moet onthou: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;" (Jesaja 55:8)
Ons gedagtes is nie soos God s'n nie en Hy verduidelik ook nie altyd sy optrede vir ons nie, maar van Genesis tot Openbaring word elkeen van sy beloftes aan 'n opdrag gekoppel.
In ons teksvers gee die Here deur die woorde van die profeet Sagaria vir sy 'n volk 'n belofte. Sagaria het van 520 tot 518 v C geprofeteer toe baie Jode na Jerusalem teruggekeer het om die stad en die tempel te herbou. Behalwe sy profesieë, weet ons nie baie van hom nie. Jesus vertel wel vir ons dat hy in die tempel vermoor is. (Matteus 23:35)
Wat ons egter weet, is dat toe die bannelinge teruggekeer het, het hulle begin voete sleep met die herbou van die tempel. (Haggai 1). Sagaria waarsku hulle om die Here eerste te stel en Hom gehoorsaam te wees. Dit is raad wat ons ook kan volg want dit bevat 'n wonderlike belofte van die Here met 'n versekering: "Bekeer julle tot My, … dan sal Ek weer by julle wees …"
Daar is Christene wat, wanneer slegte dinge met hulle of hulle geliefdes gebeur, voel dat die Here hulle in die steek gelaat het en Hom dan verwerp. Ander raak weer louwarm in hulle geloof en verloor die toewyding wat hulle voorheen gehad het. Sommige Christene gee toe aan versoeking, weet dat hulle verkeerd gedoen het en glo dan dat die Here hulle nooit sal vergeef nie.
Dit is waar dat die Here elkeen van ons eendag sal oordeel, maar die tyd is nie nou nie. Dit maak nie saak wat jou geestelike toestand is nie, niemand op aarde is uitgesluit van God se genade nie. Daar is nog tyd om na Hom toe terug te keer. As ons ware berou toon en ons bekeer, het ons die belofte dat Hy by ons sal wees. Ons dien 'n genadige, liefdevolle God!
Gebed: Hemelse Vader, ongeag ons geestelike toestand, gee dat die Heilige Gees ons sal help om ons aan U wil te onderwerp. Amen