Die belofte van heerlikheid wat vir ewig bly - 16 Mei 2016
Neville Turley
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 2 Kor :17
Christen wees is nie 'n waarborg vir 'n sorgvrye lewe hier op aarde nie. Ons moet 'n bietjie langer daarvoor wag. Hoe vol probleme ons lewens ook al mag wees, dit verdwyn in die niet wanneer ons dit vergelyk met die heerlikheid wat daar op ons wag in die hiernamaals.
Jesus self sê dat ons ons nie moet bekommer nie: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My." (Johannes 14:1)
Die Here gee ons goeie raad, maar dit is nie raad wat ons maklik vind om te aanvaar nie. So dikwels gee ons ons probleme in gebed oor aan die Here, net om dit in angs weer terug te neem en van vooraf ons oor dieselfde ding te bekommer.
Ons moet ook bewus wees daarvan dat wat ook al ons sorge en bekommernisse, daar is altyd iemand anders wat swaarder kry as ons. Helen Keller stel dit so mooi "Ek het gehuil omdat ek nie skoene het nie totdat ek 'n man sonder voete ontmoet het."
Baie mense raak soms sonder enige grondige rede baie ontsteld. 'n Goeie voorbeeld is die ruspe in die klassieke verhaal van "Alice in Wonderland".
“Are you content now?” said the caterpillar.
“Well I should like to be a little longer, sir, if you don’t mind,” said Alice, “three inches is such a wretched height to be.”
“It’s a very good height indeed!” said the caterpillar angrily, rearing itself upright as it spoke. (It was exactly three inches high.)
Dit gebeur dikwels in ons daaglikse lewe. Ons is soms so fyngevoelig en gegrief en niks maak ons kwater as wanneer mense op ons neerkyk of te kenne gee dat hulle beter as ons is nie. In ons harte begin ons dikwels 'n wrok koester en laat geen ruimte vir enige moontlike vriendskap of samewerking met hierdie mense nie.
Dit is 'n groot fout. Ons moet nie toelaat dat ons bekommernisse of mense wat ons aanstoot gee, ons lewens oorneem nie.
Ons is duur gekoop en is kosbaar in die aangesig van God. Hy sal ons in al ons krisisse help en in ons behoeftes voorsien.
Gebed: Hemelse Vader, ons dank U vir die gawe van ewige lewe. Gee dat u Heilige Gees ons elke dag sal help om tot u eer te leef. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen