'n Opdrag en 'n heilige belofte - 17 Mei 2016
Neville Turley
Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word. Lukas 6:38
In vandag se teks word die opdrag in een woord vervat en die res van die teks bevat 'n belofte gewaarborg deur God.
"Gee" is 'n woord wat dikwels in versoeke vir finansiële bydraes gebruik of geïmpliseer word. Dit mag ruim bydraes teweeg bring, of dit mag ervaar word as 'n poging om mense wat al keelvol is om aanmekaar by te dra, te kry om nog geld te gee.
Dit is belangrik om wanneer ons die Bybel lees, nie dinge in te lees wat nie daar staan nie. Jesus sê nie in hierdie teks dat ons geld moet gee nie. Hy sê slegs "gee". Elke Christen het iets wat hy met ander kan deel.
As die Here jou met rykdom geseën het, en jy wil dit met ander deel, is dit wonderlik. Daar is egter baie ander maniere wat ons iets tot eer van God kan gee.
'n Kaapse koerant het onlangs berig oor 'n 83-jarige pensionaris. Van die balkon van haar woonstelletjie op die sesde vloer van die ouetehuis, het sy gesien hoe haweloses daagliks sukkel om hulle te was. Sy het aan 'n manier gedink om hulle lot te verlig.
Sy het stukkies badseep wat gewoonlik weggegooi word by haar mede-inwoners gekollekteer en haar voedselverwerker gebruik om vloeibare seep te maak. Die vloeistof het sy in herwinne 500 ml-melkbottels gegooi, netjiese etikette opgeplak en dit toe persoonlik onder die haweloses versprei.
Sy het ook nie net een keer gegee nie. Sy help die haweloses nou al vir langer as 'n jaar op hierdie manier en het ook begin om uit te reik na benadeelde kinders.
Die Here vra ons om te gee en om te gee word nie beperk tot materiële dinge nie. Oral om ons is daar mense wat 'n behoefte het aan liefde, versorging, aanmoediging, inspirasie en hoop. Die lys is oneindig lank.
Maar wat ons met ons menslike beperkings ook al gee, die Here beloof dat Hy ons meer sal gee. Ons dien 'n wonderlike, ruimhartige Vader.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons sal inspireer om vir ander om te gee en altyd gereed te wees om die lot van ander te verlig. Dit bid ons in die Naam van Jesus. Amen