Die belofte van geloof - 19 Mei 2016
Neville Turley
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Hebreërs11:1
As ons maar almal die geloof kon hê van die Romeinse offisier wat in Kapernaum na Jesus gekom het en Hom gevra het om sy ernstig siek slaaf te genees.
Jesus het aangebied om die slaaf te besoek, maar die offisier het Hom so vertrou dat hy gesê het: "… Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word." Jesus was verwonderd oor hierdie antwoord en Hy het vir diegene wat by Hom was gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie."
In die Christelike godsdiens is geloof, hoop en liefde die belangrikste gawes. Geloof word meer as hoop en liefde in die Nuwe Testament genoem.
As ons doodeerlik wil wees, sal min van ons Christene ons geloof op dieselfde vlak as dié van hierdie offisier plaas. Die meeste van ons het iets in ons van die apostel Tomas na wie daar deur die eeue as 'doubting Thomas' verwys word. Omdat ons twyfel, probeer ons dikwels om op 'n intellektuele vlak dit wat ons glo te rasionaliseer.
Tomas was 'n dapper man. Hy was selfs bereid om saam met Jesus te sterf. (Johannes 11:16). Na die kruisiging kon hy egter nie aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. (Johannes 20:25)
Toe Jesus in die bokamer aan sy dissipels verskyn het, het Hy vir Tomas gesê om nie langer ongelowig te wees nie, maar om te glo.
Tomas het toe besef dat hy in die teenwoordigheid van die opgestane Here is en hy het gesê: "My Here en my God," die wonderlikste belydenis in die Nuwe Testament.
Dit is die woorde wat ons almal moet bely. Soos Paulus moet ons ook bevestig: "Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê." (Galasiërs 2:20)
Geloof is 'n persoonlike verhouding wat ontstaan wanneer 'n sondaar sy sondes bely en 'n band met Christus smee.
Hoe bevoorreg is ons nie om deel te wees van God se familie nie, want: "Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen." (Psalm 145:17)
Gebed: Almagtige God, ons wil U loof en prys. Gee dat die Heilige Gees ons geloof sal versterk en ons deur Jesus Christus, ons Here, elke dag nader aan U sal bring. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.