Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die belofte van hoop - 18 Mei 2016

Neville Turley

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!  Romeine 15:13

Paulus het die brief aan die Romeine in ongeveer 55-56 n.C. in Korinte geskryf voordat hy na Jerusalem vertrek het om fondse na die gelowiges daar  te neem. Hy stuur die brief met Febe, 'n dienares, na Rome, maar hy sou eerder graag self wou gaan. Hy verlang om Rome toe te gaan om die evangelie daar te gaan verkondig.

Paulus het gehoop om 'n basis onder sy vriende in Rome te vestig en wanneer dit gedoen was, met hulle ondersteuning na Spanje te reis om die goeie nuus van Jesus Christus daar te gaan verkondig.

Paulus se hoop het egter nie volgens plan verloop nie. Hy het wel daarin geslaag om twee jaar later in Rome aan te kom, egter nie op eie houtjie nie maar as 'n verhoorafwagtende gevangene in kettings.

In die Bybel lees ons dat van die geestelike gawes is hoop een van die drie belangrikstes. Die ander twee is geloof en liefde.

Eendag wanneer ons in die hemel is, sal die behoefte aan geloof en hoop wegval en net liefde sal bly.

Almal hunker na hoop – hoop op 'n beter lewe, hoop op beter persoonlike verhoudings, hoop op genesing. Dit wat ons hoop word miskien nie altiyd bewaarheid soos ons dit wil nie, maar ons het die voorreg dat ons toegang tot die grootste bron van hoop het.

Christus is die bron van hoop. Sonder Hom is daar geen hoop nie. Met Christus is daar, ongeag hoe desperaat ons omstandighede is, altyd hoop.

Hoop is nie iets wat ons self kan bereik nie. Hoop is 'n gawe van die Heilige Gees aan diegene wat in 'n verhouding met Jesus is.

Dit maak nie saak onder hoeveel druk ons verkeer nie, die God van hoop beloof aan ons vreugde en vrede solank as wat ons op Hom vertrou.

Gebed: Hemelse Vader, U weet wat ons hoop en U ken ons begeertes. Gee dat alles wat ons doen, slegs volgens u wil en tot u eer sal wees. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Previous article: Die belofte van geloof - 19 Mei 2016 Prev Next article: 'n Opdrag en 'n heilige belofte - 17 Mei 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.