'n Belofte aan diegene wat hulle geld goed gebruik - 23 Mei 2016
Neville Turley
Spoor hulle [die wat … ryk is] aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. 1 Timoteus 6:18-19
Vrygewigheid en 'n gewilligheid om met ander te deel, is nie vir almal ewe maklik nie. John Wesley, aan wie die Metodiste Kerk sy bestaan te danke het, het op 'n keer gesê: "Die laaste deel van 'n man om tot bekering te kom, is sy beursie."
Dit kan nie gesê word van Josef van Arimatea nie. In die Bybel lees ons dat hy 'n ryk man was, 'n lid van die Joodse Raad en 'n dissipel van Jesus, maar in die geheim. Sy dade het egter sy vrygewigheid geopenbaar.
Josef was belangrik genoeg om 'n oudiënsie met Pilatus te kry en met die dood van Jesus het hy dit gewaag om Pilatus te gaan vra om Jesus se liggaam aan hom te oorhandig. Pilatus het ingestem.
Josef het die bebloede liggaam van die kruis afgehaal en dit in 'n nuwe linnedoek wat hy gekoop het, toegedraai. Hy het Jesus se liggaam in sy eie graf wat in 'n rots uitgekap was, neergelê.
Hy het toe 'n klip voor die opening geplaas en weggegaan.
Dit is al wat ons van Josef van Arimatea weet, maar hy sal nooit vergeet word nie. Sy storie is in al vier die Evangelies opgeteken. Hy sal vir altyd onthou word as die vrygewige man wat sy invloed en sy geld gebruik het om sy Meester te dien toe almal wat naby aan Jesus was, gevlug het.
In ons teksgedeelte vir vandag is daar 'n belofte vir die volgelinge van Jesus wat, soos Josef, hulle geld goed aanwend. Ons lees dat hulle deur hulle vrygewigheid en mededeelsaamheid vir hulle 'n skat in die hemel vergader. Hierdie is 'n belofte wat ons gerus ter harte moet neem en moet toepas.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees aan ons 'n gees van vrygewigheid sal skenk en ons gewillig sal maak om met ander wat groter behoeftes as ons het, te deel. Ons bid dit in u Naam. Amen