'n Belofte vir diegene wat besorg is - 24 Mei 2016
Neville Turley
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Filippense 4:6-7
Regoor die Engelssprekende wêreld is die t-hemp met die woorde “Keep calm and carry on” baie gewild. Dit is 'n gesegde waarby ons almal aansluiting vind. Niks is moeiliker as om te probeer om kalm te bly wanneer ons as gevolg van omstandighede buite ons beheer onder druk is nie.
Dit is dan wanneer ons gerus die woorde van die digter, Alfred, Lord Tennyson, moet onthou: “Closer is He than breathing, and nearer than hands and feet.”
God is altyd daar om ons gebede te hoor. Selfs wanneer ons so beangs en oorstuur is dat ons nie weet wat of hoe om te bid nie, neem die Heilige Gees oor en tree vir ons in. Hy maak ons gebede bekend aan die Vader. (Romeine 8:26)
Ons moet egter altyd in verbinding met ons Hemelse Vader wees en nie net wanneer ons probleme het en nie weet waar om hulp te kry nie. Jesus het 'n groot deel van sy lewe op aarde in gebed deurgebring en selfs nou dat Hy in die hemel is, tree Hy vir ons in en pleit vir ons by die Vader.
Jesus leer ons dat ons 'n Vader in die hemel het. Hy is altyd gereed om te luister en ons gebede te beantwoord.
Jesus leer ons dat ons moet vra en daar sal vir ons gegee word, ons moet soek en ons sal kry en dat ons moet klop en daar sal vir ons oopgemaak word. "As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?" (Matteus 7:11)
Die Here verlang net die beste vir ons. Hy is 'n Vader wat omgee en op wie ons volkome kan vertrou.
In ons teks vir vandag is daar die belofte dat as ons in gebed alles aan God bekend maak, sal alles waaroor ons besorg is, verdwyn en sal ons die vreugde van sy vrede ervaar.
Gebed: Hemelse Vader gee dat die Heilige Gees alles waaroor ons beangs en besorg is uit ons lewens sal verwyder en skenk aan ons vrede. Gee dat ons sal rus in die sekerheid dat in en deur U alles ten goede meewerk. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen