Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die belofte van vrede - 30 Mei 2016

Neville Turley

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.  Matteus 11:29

Niks ontstel ons meer as wanneer ons besef dat ons persoonlike of nasionale veiligheid bedreig word nie. Die meeste mense wil net 'n veilige bestaan in harmonie met ander voer.

Op internasionale vlak lyk dit nie altyd haalbaar nie. Oorloë, ekonomiese en gesondheids- krisisse, asook terreur het die onaanvaarbare deel van ons bestaan gemaak. Op die tuisfront is droogte, werkloosheid, armoede, misdaad en korrupsie 'n realiteit. Die stres waaraan ons onderwerp word, kan ons gesondheid en gemoedsvrede beïnvloed.

Dit is ongelukkig waar dat sedert Adam en Eva teen God gerebelleer het en uit die tuin van Eden verban is, die wêreld in 'n voortdurende staat van onrus verkeer. (Genesis 3:23) Sedert sonde in die wêreld gekom het, is daar 'n skeiding tussen God en die mens. 'n Skeiding wat net deur die liefde van Jesus Christus oorbrug kan word.

Toe het Jesus gekom om sy bediening hier op aarde uit te leef. Hy het blindes laat sien, die lammes laat loop, melaatses genees, dowes weer laat hoor,en  dooies opgewek. (Matteus 11:4-5) Sy belofte van rus vir diegene wat angstig en bevrees is, is 'n ope uitnodiging vir almal wat uitgeput en oorlaai is.

Die Jode in Jesus se tyd is gedwing om onder die Romeinse juk te leef. Dit was moeilik en is veroorsaak deur die wreedheid van die Romeinse ryk. Ysterdissipline gekombineer met verdrukkende belastings kan 'n mens se gees breek en 'n nasie tot oorgawe dwing. Die Jode het dit gehaat.

In teenstelling dwing Jesus nie sy juk op enigiemand af nie. Inteendeel, Hy nooi almal uit om sy juk op te neem met die belofte: "want my juk is sag en my las is lig." Soos alle bybelse beloftes kom hierdie een ook met 'n opdrag: "Neem my juk op julle en leer van My"

Om van Jesus te leer en gehoorsaam te wees aan sy leringe, verg dissipline en uithouvermoë, maar dit waarborg rus en vrede vir die siel.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons met die hulp van u Heilige Gees ons liefde aan U sal bewys deur hierdie uitnodiging te aanvaar en in gehoorsaamheid van U te leer.

Previous article: Sy belofte dat Hy weer sal kom - 31 Mei 2016 Prev Next article: Die belofte van vergifnis - 27 Mei 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.