Sy belofte dat Hy weer sal kom - 31 Mei 2016
Neville Turley
“Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Openbaring 22:12
Die wederkoms van Christus is 'n prominente tema regdeur die Bybel.
Engele het die eerste koms van die Verlosser aangekondig. Toe Jesus op daardie eerste Hemelvaartdag in die hemel opgeneem is, het engele vir sy dissipels gesê dat Hy weer terug sal kom. "Terwyl Hy weggaan en hulle (die dissipels) nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” (Handelinge 1:10-11)
Jesus self het ook getuig dat Hy weer sal kom. "Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. (Matteus 16:27)
Vervul die wete dat Hy weer sal kom jou met vrees of blydskap?
Indien ons die versekering het dat ons in 'n regte verhouding met God staan, kan ons met blye afwagting na die koms van ons Koning uitsien.
Wanneer dit gaan plaasvind weet niemand nie. Indien iemand beweer dat hulle die dag en datum weet, is hulle of 'n vals profeet of geestelik siek. Jesus self het gesê: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit." (Matteus 24:36)
Ons weet nie wanneer die dag van die Here gaan aanbreek nie, maar ons weet dat dit gaan plaasvind wanneer ons dit die minste verwag. (2 Petrus 3:10)
Die onus rus op ons om altyd gereed te wees en deur die krag van die Heilige Gees 'n lewe te lei wat die Naam van Christus waardig is.
'n Vraag wat elkeen van ons onsself gereeld moet vra is: "As Jesus nou sou kom, sal my gedrag en leefstyl vir Hom aanvaarbaar wees?"
Gebed: Hemelse Vader, ons is so vatbaar vir versoeking. Gee dat die Heilige Gees ons sal bewaar en lei en beskerm totdat die dag van die Here aanbreek. Amen