Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Heilige Gees bring nuwe lewe - 9 Junie 2016

Louise Gevers

Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.  Esegiël 36:26

Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.  Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? …”Esegiël 37: 1-3

Mense sal verskillend reageer as hulle hul in die middel van 'n vallei vol droë bene bevind, maar nie eers 'n chiropraktisyn sal voel dat hy enige iets van waarde daar kan doen nie! Esegiël reageer egter vanuit 'n eerbiedige en gehoorsame hart.

Esegiël was 'n priester in opleiding toe hy saam met tien duisend gevangenes na Babel verban is. Op die ouderdom van 30 is Esegiël geroep om as profeet die kinders van die Here in Babel te help om te verstaan dat hulle bannelingskap as gevolg van hulle sonde 'n lang tyd gaan duur, maar ook om aan hulle 'n nuwe boodskap van hoop te bring. Esegiël het geweet dat dit moeilik sou wees want die Here het hom gewaarsku: "Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik." (Esegiël 3:7) Maar hy het God vertrou vir die nodige krag vir die taak.

Die woorde van Esegiël in die vers uit hoofstuk 37, skilder 'n prentjie van verlatenheid, dood en hopeloosheid – die resultaat van gevoelloosheid teenoor God. Stel jou die toneel voor wat tot hierdie groot hoop droë bene in die laagte gelei het. Dood, waarvan die bene 'n bewys is, en hopeloosheid wanneer 'n mens besef dat diegene wat daar gesterf het, net so gelos is, dat hulle nooit terug huis toe na hulle families toe is nie, en dat hulle nooit 'n waardige begrafnis gekry het nie. Dit verteenwoordig die geestelike toestand van die Jode in ballingskap, ver weg van hulle eie land, familie en plek van aanbidding.

'n Mens mag dink dat hierdie beeld van die bene die einde beteken, maar Esegiël weet dat niks by God onmoontlik is nie en hy antwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” (Esegiël 37:3(b)) Die Here het toe deur Esegiël gewerk om die bene aanmekaar te sit, om senings en vleis aan te sit en hulle met vel te oortrek. Die Here het toe op hulle geblaas sodat hulle kon lewe. Die Here het toe vir Esegiël beveel om te profeteer dat Hy hulle sal terugbring "na die land Israel toe" en Hy sal sy "Gees in [hulle] laat kom sodat [hulle] kan lewe." (Esegiël 37:12,14) Watter wonderlike hoop!

Verteenwoordig dit miskien ons eie toestand? Is daar miskien areas in jou lewe wat uitroep na die vernuwende krag van die Heilige Gees, miskien in jou verhouding met God, of jou huwelik? Miskien moet ons ook let op ons verhoudings in ons gesinne, of by die werk of na ons gesondheid kyk. 'n Mens wil nie dat hierdie sake "droog" word net omdat ons hardvogtig en hardkoppig is, dinge verwaarloos en 'n gebrek aan vergifnis het nie. Kom ons stort ons harte voor God uit en sien Hoe Hy ons geloof verander en ons genees.

Gebed: Hemelse Vader, U kan in die lewe van enige persoon, kerk of in enige situasie nuwe lewe bring. Help my asseblief. Amen

Previous article: Die Heilige Gees bring vergifnis - 10 Junie 2016 Prev Next article: Die Heilige Gees bring geregtigheid deur genade - 8 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.