Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Heilige Gees bring vergifnis - 10 Junie 2016

Louise Gevers

Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. Psalm 51:12-14

Die skrywer van hierdie psalm is koning Dawid, een van die belangrikste manne in die Ou Testament en 'n voorouer van Jesus Christus. Dawid was die man na wie Samuel verwys het toe hy gesê het: "Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek …" (1 Samuel 13:14) en oor wie daar geskryf is: "Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. …" (1 Samuel 16:13)

Dit is goed bekend dat Dawid ver van volmaak was. Nogtans, deur die krag van die Gees het hy 'n magtige krygsman geword wat Israel vir 40 jaar tot eer van God gelei het, en teen die einde van sy bewind was daar vrede. Alhoewel hy aanvanklik 'n nederige skaapwagter was wat na sy pa se skape omgesien het, het hy tog met sy hele hart in die grootheid van God geglo. Hy was ook 'n digter en musikant wat sy hart voor God in die digkuns en die psalms uitgestort het en waardeur die krag van die Gees in hom ons vandag nog aanraak. Ons beleef die prag van die psalms wat Dawid se aanbidding en afhanklikheid van God weerspieël, asook die feit dat die Here getrou is. Dit laat 'n mens besef dat ons dieselfde gedagtes en behoeftes het.

Die psalms gee aan ons werklik insig in dit wat daartoe gelei het dat God gesê het: "Ek het in Dawid … 'n man na my hart gevind. (Handelinge 13:22) Ten spyte daarvan dat hy 'n belangrike koning was, het hy nooit vergeet dat hy deur God alleen hierdie mag ontvang het nie, hy het geglo dat hy alles uit die hand van God ontvang het. "God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig." (2 Samuel 22:33) Nieteenstaande dit alles, was hy tog eerlik oor al sy tekortkominge en sy behoefte om sy sondes te bely; om deur God vergewe en vernuwe te word. "Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien." (Psalm 51:14) Hy het nooit gedink dat hy beter as ander was nie en daarom anders deur God behandel moet word nie.

In ons teks vir vandag smeek Dawid die Here om nie die Heilige Gees van hom weg te neem nie, hy pleit om genade nadat hy owerspel met Batseba gepleeg het en haar man laat vermoor het. Hy vra dat die Here hom moet vergeef. Die Heilige Gees is die Een wat ons in die eerste plek van sonde oortuig en ons dan help om berou te hê en ons sondes voor die Here te bely. Dit lei daartoe dat die Here ons vergeef en hernu.

Gister het ons gepraat oor die krag van die Heilige Gees wat areas in ons lewens kan verander. Vandag leer ons uit die lewe van Dawid dat sonde 'n skeiding tussen ons en God bring wat ons geestelike groei en ons geluk belemmer, en dat die Heilige Gees ons help om hierdie skeiding te herken en om vergifnis te ontvang en weer opgebou te word.

Gebed: Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig, deur Jesus Christus. Amen

Previous article: Die vuur van die Heilige Gees - 13 Junie 2016 Prev Next article: Die Heilige Gees bring nuwe lewe - 9 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.