Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Heilige Gees die Trooster - 14 Junie 2016

Louise Gevers

Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.  Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”  1 Konings 19:3-4

“Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter …“ As jy al hierdie woorde gesê het of iemand ken wat so gevoel het, sal jy 'n bietjie insig hê in hoe Elia moes gevoel het. Vir ons wat nog nie nie so gevoel het nie, mag dit verstommend wees dat Elia so voel ondanks sy oorwinning op die Karmelberg, en veral na God sy gebed so kraigtig beantwoord het. Hoekom sou hierdie held wat so dapper teen Agab opgestaan het, vuur uit die hemel afgeroep het, met sukses gebid het dat die reën moet kom om die droogte te breek, en aan wie daar bonatuurlike krag gegee is om vir Agab se strydwa weg te hardloop, so waardeloos voel dat hy eerder wou sterf?, Ten spyte van die feit dat ons suksesvol is of miskien groot dinge vir God doen, is niemand immuun teen negatiewe gedagtes nie. Depressie, teleurstelling, eensaamheid en uitputting oorval ons soms na ons hard en met toewyding aan iets gewerk het.

Op hierdie stadium was Elia baie bedruk. Die Here het Homself deur Elia aan die volk bewys, 'n groot oorwinning is behaal, en tog het die lojaliteit van die volk nie so beduidend verander as wat Elia gehoop het nie. Isebel was steeds 'n kragtige invloed van die bose. Elia was bitterlik teleurgesteld en bang want op die koop toe het Isebel, nadat sy gehoor het dat Elia haar 850 profete doodgemaak het, gesweer dat sy hom die volgende dag so doodmaak. So na wie gaan die profeet vir troos in sulke tye van bedreiging? "Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. … Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud … ” (1 Konings 19:5-7) In hierdie tyd bvan nood het god nie net aan Elia bewys dat Hy verstaan nie, maar Hy het op 'n tasbare manier bewys dat Hy omgee. Hy het besef dat Elia moeg en honger was en daar in die woestyn voorsien die Here in Elia se behoeftes. Ruik jy die roosterkoek?

Met sy krag versterk, reis hy na die berg Horeb, meer as 300 km verder. Daar " … het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:9) Wat 'n verligting om sy hart voor God te kon uitstort en net op Hom te fokus. Soms, in ons toewyding aan die Here, verloor ons fokus en probeer self dinge doen wat eintlik aan Hom behoort. Dit is dan nodig om weer balans te vind. Ons lees hier hoe God weer eens vir Elia presies gee wat hy nodig het. Hy stuur hom nie om 'n groot taak te gaan verrig nie, maar gee hom eerder 'n ongelooflike ondervinding deur aan hom op 'n baie persoonlike manier te verskyn. "Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan." (1 Konings 19:11-13) In die fluistering van die windstilte het die Here hom toegerus vir sy taak wat nog nie voltooi was nie.

Verstommend!

Gebed: Liewe Vader, dankie dat ons nooit alleen is nie, al voel ons soms so. U is altyd daar. Dankie vir u getrouheid en dat U vir al u kinders, groot en klein, omgee. Amen

Previous article: Die kragtige Gees - 15 Junie 2016 Prev Next article: Die vuur van die Heilige Gees - 13 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.