Die vuur van die Heilige Gees - 13 Junie 2016
Louise Gevers
Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” 1 Konings 18:36-37
Kyk ons na die gebed in ons teks vir vandag, besef 'n mens hoekom Elia een van God se grootste profete was ‑ hy was eerbiedig: "Here, God …dat U God is in Israel"; hy was nederig: "ek u dienaar is"; gehoorsaam: "wat op u bevel al hierdie dinge doen"; onselfsugtig: "dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is". Elia het onvoorwaardelik op God se roepstem geantwoord en die Here het met hom gepraat en deur sy Gees, kragtig deur Elia gewerk. En tog, ongeag sy verhouding met God, was sy lewe in Israel nie maklik nie want koning Agab het hom as sy vyand beskou. Agab het Elia net as die draer van slegte nuus beskou en, soos die geval met baie mense vandag, nie geglo dat dit sy aanhoudende sonde en afgodediens was wat die profesieë en oordeel van God oor hom en Israel gebring het nie. God verdra steeds nie sonde nie.
Agab moes aan God en Elia rekenskap gee, maar hy was met 'n heidenvrou, Isebel, getroud en hy het haar raad gevolg en saam met haar afgode aanbid en God se woord wat deur Elia gekom het, verwerp. Isebel was 'n getroue afgodedienaar en in beheer van 850 profete van Baäl en Asjera, en sy het Agab voortdurend mislei. Hierdie is 'n baie duidelike voorbeeld hoekom Paulus eeue later vir die gelowiges gesê het: "Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?" (2 Korintiërs 6:14) Dit is vandag nog steeds waar.
Geen wonder dat Elia se grootste en belangrikste wonderteken was om die profete van Baäl op die Karmelberg te verslaan, en so die volk te oortuig dat Here die ware God is. Die dag het uiteindelik aangebreek dat Agab die vals profete en die volk op die Karmelberg byeengebring het, soos Elia hom beveel het en Elia het vir die volk gevra: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” (1 Konings 18:21) Elia het toe die profete van Baäl beveel om eerste 'n altaar te bou en dan 'n bul voor te berei om vir Baäl te offer. Hy het ook 'n bul voorberei om aan die Here te offer. Hulle is nie toegelaat om self die vuur aan te steek nie en die uitdaging was om te sien watter god het die krag om die vuur te laat brand.
Die vals profete het die hele dag tot Baäl geroep, hulle stukkend gesny met swaarde en tevergeefs gewag dat hy hulle antwoord. Toe Elia egter tot God bid om die offer wat hy voorberei het te aanvaar, het Hy onmiddellik vuur uit die hemel gestuur om die offer te verbrand. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” (1 Konings 18:39)
Gebed: Here, U alleen is God. Help my asseblief om eerbiedig, nederig, gehoorsaam en onselfsugtig te wees sodat u Gees kragtig in my kan werk en ander u vuur in my kan sien en na U kan terugkeer. In Jesus se Naam. Amen