Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Gees van die waarheid - 20 Junie 2016

Louise Gevers

“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.  Johannes 14:15-17(a)

Ek het 'n baie wyse ouma gehad wat my geleer het dat om leuens te vertel maak die Here hartseer, die duiwel bly en dat my leuens in elk geval altyd sal uitkom. Sy was reg. Wanneer die waarheid ontbloot word nadat mense vir mekaar gelieg het, lei dit altyd tot ernstige, soms vernietigende vertrouensbreuk in hulle verhouding – of dit nou tussen vriende, man en vrou, ouer en kind, werkgewer en werknemer, staat en landsburgers is – inderdaad in elke moontlike situasie denkbaar waar die waarheid nie gepraat word nie. En net die duiwel lag.

Die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is gebaseer op die waarheid. Wanneer ons dit oorweeg om 'n verhouding met God te hê, moet dit een van vertroue en waarheid wees, en so geld dit ook vir ons. Ons het die Heilige Gees nodig om ons deur die vele verskillende situasies in ons daaglikse lewens te lei. Die Heilige Gees reinig ons en help ons om op ons hoede te bly en ons gewete gereeld te bevraagteken, wat dan weer aanleiding gee tot vryheid en vrede in ons harte. "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Johannes 8:31-32)

Waarheid is boaan die lys van kwaliteite wat benodig word vir vertroue en noodsaaklik vir elke persoon wat hom in 'n verhouding bevind wat die moeite werd is. Dit is egter 'n struikelblok vir diegene wat nie waarheid beoefen nie. Dit is onmoontlik om 'n goeie verhouding met ander te hê as hulle nie die waarheid vertel nie en dit maak vertroue onmoontlik.

In vandag se teks beklemtoon Jesus twee noodsaaklikhede: gehoorsaamheid en waarheid, dissiplines wat lewensnoodsaaklik is indien 'n mens met integriteit wil leef. Hoe het dit betrekking op die Heilige Gees? Die Heilige Gees is die "Gees van die waarheid" wat ons van reg en verkeerd oortuig, maar Hy is ook die Een wat in waarheid elke deel van Jesus se lewe in die lewe geroep het: die profesie met betrekking tot sy koms, die aankondiging van sy geboorte, sy doop, die versoeking deur die duiwel in die woestyn, sy opstanding en hemelvaart. Die krag van die Heilige Gees het Jesus in staat gestel om wonders te doen, die Skrif aan te haal en met groot wysheid mense te onderrig.

Moontlik de beste voorbeeld van die waarheid van sy krag word gevind in Jesus wat Lasarus uit die dood opgewek het – sekerlik 'n waarheid wat ons moet vertrou as ons in die opstanding van Jesus wil glo en gevolglik ook in ons eie opstanding. Die Bybel verseker ons hiervan: "Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon." (Romeine 8:11)

Gebed: Gees van waarheid, ek het U nodig in my lewe. Leer my die waarheid en om gehoorsaam te wees sodat ek U met blydskap kan dien.In Jesus se Naam. Amen

Previous article: Die Heilige Gees as Leermeester - 21 Junie 2016 Prev Next article: Die eenheid van die Heilige Gees - 17 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.