Die Heilige Gees as Leermeester - 21 Junie 2016
Louise Gevers
en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Johannes 14:26
Raak jy ook soms bekommerd omdat jy dinge vergeet? Mense wonder soms oor hoe die Bybel geskryf is en hoe betroubaar al die inligting is wat oor soveel honderde jare ingesamel is? In ons teks vandag is daar 'n belangrike leidraad om die vraag te beantwoord. Dit vertel ons van 'n belangrike aspek van die werk van die Heilige Gees. Jesus verseker sy dissipels dat die Heilige Gees hulle sal leer en hulle sal herinner aan alles wat Hy hulle geleer het.
Om te kan onthou is 'n belangrike aspek van die lewe en dit beïnvloed ook ons welstand. Om gelukkige tye te kan onthou, bring vreugde en dit help ons ook in tye van swaarkry, maar traumatiese herinneringe is ontstellend en kan 'n blywende negatiewe uitwerking hê. Daar moet 'n balans wees, tussen genoegsame herinneringe om elke dag effektief te kan funksioneer, maar nie te veel herinneringe sodat ons angstig raak nie. Die aantal dinge wat ons elke dag moet onthou, kan soms aanleiding gee dat ons belangrike dinge vergeet, wat stres laat opbou. Ons is voortdurend besig om te probeer bybly.
Die dissipels het 'n soortgelyke probleem gehad. Hulle kon nie altyd volhou met dit wat Jesus gedoen en geleer het terwyl Hy by hulle was nie. Hulle het Hom ook gereeld misverstaan.
By een so gelentheid tydens sy vroeë bediening, nadat Jesus die tafels van die geldwisselaars omgekeer het en almal uit die tempel uitgedryf het, het die Jode geëis dat Hy 'n wonderwerk verrig om sy gesag om so iets te doen, te bewys: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” (Johannes 2:19) Die Jode het Hom te bespot want hulle het gedink dat hy na die fisiese tempel verwys wat 46 jaar geneem het om te bou en die dissipels het duidelik ook nie verstaan nie. In Johannes 2:22 lees ons: "Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo."
Hierdie voorspelling is in Jesus se opstanding vervul, dit het sy aanspraak dat Hy God is bewys, en dit is natuurlik van kernbelang vir ons geloof. Verstaan ons hoe belangrik dit vir die Heilige Gees was om hulle te herinner aan dit wat Jesus gesê het?
Hy doen dieselfde vir ons. Wanneer ons voor 'n probleem of versoeking te staan kom herinner die Heilige Gees ons aan Jesus se woorde wat ons oortuig van wat reg is en Hy lei ons in die waarheid. "En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, …" (Johannes 16:8) Deur elke ondervinding word ons meer volwasse in ons Christenskap en word ons in die waarheid deur die Heilige Gees gelei.
Gebed: Liewe Vader, skenk aan my genoeg herinneringe om die oorvloedige genade wat U aan my bewys te kan onthou, maar nie soveel herinneringe dat ek ander nie sal kan vergewe nie en dit wat hulle verkeerd teen my gedoen het, nie sal kan vergeet nie. In Jesus se Naam. Amen