Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 Januarie

ʼn Getuienis van ʼn gebed wat beantwoord is

Hennie Symington

Skrifgedeelte

“Ek het die Here altyd voor oë.

Hy is aan my regterhand;

ek sal nie wankel nie.

Daarom is my hart bly

en my tong jubel,

ja meer, ek het die verwagting

dat my liggaam sal lewe,

want U sal my nie

aan die doderyk oorlaat nie;

U sal nie toelaat dat u troue dienaar

vergaan nie.

U het my die paaie van die lewe

geleer;

u teenwoordigheid sal my

met vreugde vul.” Hand 2:25

Gedurende die afgelope Desember was ek op reis saam met ʼn groepie moderne pelgrims deur Klein Asië of dan Turkye waar ons die voetspoor van Paulus gevolg en besoek gebring het aan die omgewing waar Johannes die boek Openbaring geskryf het.

So saam-saam op toer leer ʼn mens mekaar se “insides” ken en word daar dikwels diep gedagtes met mekaar gewissel. Op ʼn dag vra een van die toerlede of sy haar ervaring van gebedsverhoring met die ander kan deel. As jong ma van 34 met drie kleuters en ʼn baba van vier maande oud, word sy met borskanker gediagnoseer en ondergaan sy ʼn radikale dubbele  mastektomie. Dit was vir haar ʼn ontsettende bitter ding om te aanvaar maar dit was dit of die dood. Op ʼn dag het sy van pure radeloosheid en hartseer haarself in die badkamer toegesluit en in wanhoop uitgeroep: “Here, ek kan nie. Dis vir my te veel. As U wil hê ek moet verder leef en gesond word dan lê ek dit in U hande. U kan besluit.” Sy vertel dat sy skielik gevoel dat sy deur helder lig en ʼn oneindige warmte omvou is. So duidelik het sy dit ervaar dat dit vandag nog vir haar, meer as dertig jaar later, as ʼn wonderlike herinnering aan God se helende teenwoordigheid staan. Sy het opgestaan en gesond geword – geestelik sowel as liggaamlik.

So is daar talle verhale van God se genade in mense se lewens wat as ʼn baken, nie net in jou eie lewe nie, maar ook in die lewens van ander staan om jou te herinner aan God se teenwoordigheid in tye van swaarkry en twyfel.

Soms smag ons na ʼn bergtopervaring met God. En as dit nie gebeur nie, begin ons twyfel. Moeder Teresa het net een keer in haar lang lewe God se roeping gekry en moes tevrede wees om vir 50 jaar in sy koninkryk te arbei sonder dat sy ooit weer God se stem ervaar het. Tog het sy haar taak volbring, wetende dat God getrou is al twyfel ons soms.

Gebed

Dankie Here, vir heilige momente wat ons met mekaar kan deel. Dankie dat ek altyd in u teenwoordigheid is, selfs in tye van twyfel.

Previous article: Vers n dag - 14 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 12 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.