Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 Januarie

Basta met pessimisme!

Hennie Symington

Skrifgedeelte

Juig tot eer van die Here,

almal op aarde,

wees vrolik, juig en sing! Ps. 98:4

Pak die jaar op ʼn vrolike noot aan. Dis mos vandag mode om pessimisties te wees. Ons kan ons nie sterk genoeg uitdruk teen al die euwels, verval en wanorde wat ons rondom ons gewaar nie. Ons is veral lief om in ons eie gedagtes die verval aan net een ding toe te skryf: “hulle” wat daarop uit is om “ons” leefwyse, “ons”leefwyse met “ons” standaarde met die grond plat te vee.

Al hierdie swartgalligheid bring jou net mooi niks in die sak nie. Trouens dit steel jou vreugde. As ons al hierdie negatiewe energie liewer in iets positiefs kan omskakel hoeveel beter sal dit nie met ons gaan nie. As ons maar net ons öe in die stukkende wêreld waar ons leef kon oopmaak en God se teenwoordigheid kon raaksien! As ons maar net verder as ons eie vrese kon kyk, sou ons God soos in ʼn wolkkolom of ʼn vuurkolom van ouds sien wat hoop in die wildernis gee, wat uitkoms bring wanneer die nood die hoogste is. Ons sou ʼn God sien wat steeds die God van hoop, die God wat heelmaak, die God wat vooruitgaan is.

As ons ons ore kon oopmaak, sou ons daagliks verhale hoor van mense wat ten spyte van al die negatiwiteit steeds in die voetspore van God loop. Ons sou steeds berig kry van mense wat aktief versoening bewerkstellig, wat leer om te deel, leer om die tweede myl te stap en steeds oor afgronde uitreik na ander.

Daar bestaan natuurlik ʼn presendent vir verandering. In God se Koerant lees ons keer op keer hoe die bordjies verhang word. Ons lees van mense wat nuwe hoop kry, van gemeenskappe wat hulle bekeer, van mense wie se lewens deur Jesus se koms verander is. Wat van my?

As Christene is dit ons werk om te glo, en die hoop ʼn werklikheid te maak.

Gebed

Gee Here dat die duisternis nooit die lig sal oorweldig nie. Wees U die lig op my pad. Amen

 

Previous article: Vers n dag - 17 Januarie Prev Next article: Vers n dag - 13 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.