Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Heilige Gees, die Bemiddelaar - 24 Junie 2016

Louise Gevers

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.  Romeine 8:26-27

Vandag se teks help ons om te verstaan hoe belangrik ons gebede vir God is. Ons weet dit want Hy erken ons beperkinge en reik uit na ons deur die Heilige Gees wat ons op 'n baie wonderlike en diepsinnige manier help. Terwyl Christus ons harte deurgrond, pleit die Heilige Gees vir ons sodat ons gebede vir God aanvaarbaar kan wees volgens sy wil.

Die Christelike lewe beteken 'n vreugdevolle wandel met Christus in 'n nuwe lewe, maar tegelykertyd 'n stryd teen die duiwel wat voortdurend rondloop "soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind." (1 Petrus 5:8) Ons is swak en kan hom nie uit eie krag verslaan nie. Ons het God se hulp nodig om standvastig in die geloof te bly en hom [die duiwel] teë te staan. (1 Petrus 5:9) en sy voortdurende aanvalle te verydel.

Gebed is dus noodsaaklik om as 'n oorwinnaar 'n Christelike lewe te kan ly. Deur gebed leer ons om deur volharding, geloof en vertroue die stem van die Here te hoor. Die ironie is egter dat ons swak is in presies dit wat ons sterk kan maak, gebed, en net soos sy dissipels wat in die Tuin van Getsemane aan die slaap geraak het, vind ons dit ook moeilik. Sommige Christene sê dat hulle nie kan bid nie, maar Martin Luther weerlê dit. Hy het gesê: "Om 'n Christen sonder gebed te wees, is net so onmoontlik as om te lewe sonder om asem te haal." Hy het geweet dat 'n gebedsverhouding met die Here noodsaaklik is en dat daarsonder die Christen nie die strikke van die duiwel sal kan vermy nie.

 Alhoewel ons soms nie die nodige vertroue het om te bid nie, moet ons onthou "die Gees staan ons ook in ons swakheid by." Selfs as ons nie weet wat om te bid nie, die Heilige Gees verstaan ons diepste wese en volgens die wil van God pleit Hy vir ons en bring ons in die teenwoordigheid van God. Dikwels wanneer ons baie sterk oor 'n saak voel of in pyn is het ons nie woorde om te bid nie en kan maar net voor God sug in ons pyn. Dit is dan dat die Heilige Gees oorneem.

John Bunyan het by geleentheid gesê: "Wanneer 'n mens bid is dit beter om 'n hart sonder woorde te hê as woorde sonder 'n hart." Kom ons skep moed want ons weet dat "die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God." (1 Korintiërs 2:10)

Gebed: Liewe Heer, dankie dat U my swakheid ken. Wanneer ek voel dat U nie my gebede hoor of beantwoord nie, gee dat die Heilige Gees dan my diepste begeertes volgens u wil aan U bekend sal maak. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen

Previous article: Die vrug van die Heilige Gees - 27 Junie 2016 Prev Next article: Die invloed van die Heilige Gees - 23 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.