Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die invloed van die Heilige Gees - 23 Junie 2016

Louise Gevers

Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. … Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.  Romeine 8:9-10

Hierdie teks spreek direk tot die kern van die Christelike lewe. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel mense kan onmiddellik hiermee identifiseer en vir hoeveel is dit 'n anomalie.

'n Lewende gees in 'n dooie liggaam is moeilik om voor te stel! Aan die een kant is dit heeltemal moontlik om te aanvaar dat ons as Christene beheer word deur die Gees van Christus wat in ons woon, maar aan die ander kant is ons bewus van die onbevredigende toestand van ons lewens. Dit mag dikwels voel of daar voortdurend spanning tussen ons sondige natuur en die Heilige Gees is.

Ons weet dat Jesus in Lukas 9:23 vir sy dissipels vertel het dat “As iemand agter [Hom] aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en [Hom] volg", maar ons weet nie altyd hoe dit in die praktyk werk nie. Dit is duidelik dat ons moet ophou om onsself aan die verkeerde dinge oor te gee wat so maklik deel van ons sondige natuur, die liggaam, is. Ons moet daardie dinge wat stry teen die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons, verwerp. In Efesiërs 5:1 waar Paulus by die Efesiërs aandring om God se voorbeeld te volg, gee hy ook 'n lys van dinge wat hulle moet vermy: ontug, onsedelikheid, gierigheid growwe, ligsinnige of vuil praatjies (vers 3-4). Dit is nie altyd maklik nie want sommige dinge het miskien onopmerklik begin en nou is dit 'n gewoonte. Nogtans moet ons onsself met die hulp van die Heilige Gees ondersoek en evalueer hoe ons sulke slegte gewoontes kan verbreek. Dit mag moeilik wees, maar kom ons skep moed want "[ons] is tot alles in staat deur Hom wat [ons] krag gee" (Filippense 4:13) en as ons dit regkry sal dit nuwe blydskap en vryheid bring.

Van die oomblik dat ons Christus vir ons verlossing vertrou en die wonder van sy Gees wat in ons woon ondervind, is ons in staat om ons sondige natuur af te sterf en sal ons sy hulp in alle aspekte van ons lewens ondervind. Sy Gees sal ons help om die Bybel te verstaan en sy beginsels in die praktyk toe te pas. Deur gebed en wanneer ons probleme moet hanteer, sal ons bewus word van sy hulp. Ons sal begin om sy stem te kan onderskei en krag ontvang om Hom te dien en sy wil te doen. Ons sal die gawes ontdek wat ons in staat stel om ander op te bou en om sy Kerk te dien, soos Paulus in Efesiërs skryf: "Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus." (Efesiërs 4:12-13)

As ons Jesus volg en die Heilige Gees leef in ons, sal ons oorwinnaars wees!

Gebed: Vader, werk asseblief in my dat ek saam met Paulus kan sê: "ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe" Amen

Previous article: Die Heilige Gees, die Bemiddelaar - 24 Junie 2016 Prev Next article: Die Heilige Gees as Outeur - 22 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.