Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vreugde in die Heilige Gees - 30 Junie 2016

Louise Gevers

Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.  Romeine 14:17-18

In vandag se teks gee Paulus vir ons perspektief op wat die koninkryk van God werklik is: 'n saak van gehoorsaamheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees. Die fokus is op die dinge van die Heilige Gees wat lewe en blydskap bring en ons vry maak om 'n oorvloedige lewe te geniet. Dit beteken egter nie dat dit met die fisiese te make het nie. Die Heilige Gees maak dit moontlik vir ons om so te leef dat ons die guns van God en die agting van ander kan geniet.

Soms verwar mense die koninkryk van God met iets fisies: reëls oor wat 'n mens mag eet of drink wat aanleiding gee tot 'n stryery en veroordeling. Om so daaroor te dink hinder ons soms soos dit ook die geval was met die mense in Jesus se tyd. Hulle het uitgesien na die koms van 'n fisiese koninkryk en het nie Jesus se woorde verstaan dat " die koninkryk van God is hier by julle” nie (Lukas 17:21), iets wat op aarde begin, maar in die Gees geniet word.

In Matteus 6:33 leer Jesus ons: " beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." Ons eerste prioriteit is geestelik van aard. God sal in ons fisiese behoeftes voorsien as ons Hom ons eerste prioriteit maak. Persoonlik staan ek verwonderd wanneer ek terugkyk en besef hoe baie keer God vir my in my lewe voorsien het, en soms selfs sonder dat ek daarvoor in gebed gevra het!

Ons is vergewe en gereinig deur die bloed van Christus en ons leef deur die krag van die Heilige Gees, so ons het alles om oor bly te wees! Ons kan enigiets wat ons bang maak, ontmoedig of depressief laat voel na die Here toe neem, dit by Hom laat en die Gees toelaat om ons te lei na dit wat reg vir ons is. God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. … En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. (Romeine 5:1-2)

Wat 'n fees was dit nie om deur die Heilige Gees die afgelope maand sy dinamiese krag in die bladsye van beide die Ou en Nuwe Testament te ondersoek nie, en om sy bediening in die werke van God die Vader en Jesus Christus te ontdek. Terwyl Hy deur die Seun van God se liefde en genade getuig, bring Hy vreugde en lewe. 

Mag hierdie kennis ons meer bewus maak van die Heilige Gees in ons lewens en ons inspireer om elke dag deur sy krag voluit vir Christus te leef.

Gebed: Vader, gee dat u Gees my met blydskap, vrede en hoop sal vul en my sal help om U volkome te vertrou en elke dag deur u geregtigheid te leef. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen

Previous article: Padkaart vir die lewe - Wysheid vir die lewenspad! - 1 Julie 2016 Prev Next article: Die Gees bring versekering - 29 Junie 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.