Padkaart vir die lewe - Wysheid vir die lewenspad! - 1 Julie 2016
Hierdie maand gaan ons jou voorstel aan die beste padkaart of GPS wat jy kan kry, die Bybel. Die Bybel is 'n padkaart vir die lewe en daaruit put ons wysheid vir die lewenspad.
Elke dag van jou lewensreis bestaan uit klein treetjies, soos om jou ouerhuis vir die eerste keer te verlaat, van beroep te verander, met jou geliefde te trou, of om met ʼn gesin te begin. Dít alles terwyl jy jou boonop in ʼn vreemde omgewing tussen mense met verskillende tradisies en gewoontes bevind. ʼn Mens raak maklik hierin vasgevang of van koers af omdat jy verpligtinge, verhoudings en die daaglikse stres wat die lewe op jou skouers plaas, alles moet balanseer. Die uitdaging is om jou geloof steeds op ʼn sinvolle manier uit te leef. Maak seker dat jy op die regte pad is met die Bybel as jou GPS. Kry die koördinate vir die pad wat jy wil volg in die boek van Psalms.
Hier volg 'n paar "koördinate" wat jou sommer klaar kan help.
Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. Psalm 37:23-24
God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Psalm 18:33
’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare
Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.
Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd. Psalm 121
Sluit gerus by ons aan op hierdie pad en vind uit hoe God, die “Outeur” van hierdie Boek, die Bybel, jou inspireer om sy persoonlike boodskap vir jou te verstaan en te glo
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die Bybel wat veel meer as net 'n boek is. Help my om deur u Heilige Gees hierin die koördinate vir my lewenspad te ontdek. Amen