Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Hoe het dit begin? - 5 September 2016

Danny Fourie

Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Efesiërs 2:17

Karel en Estie sit weer verveeld in die kerk en kyk voor hulle uit. Voor in die kerk probeer 'n paar ouens met kitare en 'n paar sangers die gemeente in aanbidding lei. Al weer 'n preek oor Jesus. Weer op die stofgetrapte paadjies. Woorde wat hulle al 'n duisend keer gehoor het. Die verveling op hulle gesigte gee 'n duidelike boodskap: Ek is 'n moderne mens, ek praat die taal van hierdie tyd en ek is interaktief.

Die dominee worstel met hierdie vraag. Hoe bereik hy die lidmate? Daar is 'n kommissie besig met die vraag: Hoe bereik jy die mense van hierdie tyd? Daar word wyd ondersoek gedoen. Hoe lank kan hulle luister? Watter taal spreek hulle aan? Van watter soort musiek hou hulle? Hoe kan 'n mens van moderne kommunikasiemedia en sosiale media gebruik maak? Die menings onder die lidmate verskil. Dit ook nog! Is geloof dan net 'n kwessie van smaak?

Die dominee besluit dat hy tog maar net die Bybel sal laat praat. Maar dan modern en prikkelend. Hy wil deur hulle vooroordeel probeer breek. Hy vra die luisteraars of hulle hul een en twintigste eeuse Reeboks en Nikes wil uittrek en 'n paar leer sandale van die Israeliete wil aantrek om saam met hom op 'n reis te gaan. Sy vraag aan die luisteraars is: Wie is Jesus vir jou?

Die dominee begin by die heel begin, hoe God mens geword het. En hoe God met die geboorte van sy Seun 'n nuwe benadering gevolg het. 'n Benadering wat nie klem lê op die groot afstand tussen God en mense nie, maar in plaas daarvan die kloof sou oorbrug. Onbegryplik vir die Jode wat nie eens die Naam van God durf uitspreek nie. Die begin van Jesus se loopbaan was verrassend en nie wat mense verwag het nie.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U my naby aan God die Vader gebring het. Die afstand oorbrug het, nabyheid gebring het. Amen.

Previous article: Wie is hierdie man? Is dit die Verlosser? - 6 September 2016 Prev Next article: Nog 'n keer: Wie is hierdie man? - 2 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.