Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Is dit die Verlosser? - 6 September 2016

Danny Fourie

“Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.  Matteus 1:23

Goed begonne, is half gewonne, lui 'n ou Nederlandse spreekwoord. Maar die begin van Jesus se loopbaan op aarde was verrassend en nie iets wat verwag is nie. Die mense het nie verwag dat die Verlosser as 'n baba na die aarde sou kom nie. Daarom was Jesus vir die Jode een van die baie kleintjies wat die naam Jesus gehad het. Die enigste mense wat in die begin in die Kind geglo het, was 'n groepie geringe en rowwe herders en 'n paar sterrekykers uit die Ooste. 'n Ster het die teken gegee en engele het met 'n rap song in staccato losgetrek: “Eer aan God … vrede op aarde … in mense 'n welbehae.”

Die Jode het iemand totaal anders verwag. Hulle het 'n verlosser verwag, nie 'n baba nie. Iemand wat so sterk was dat Hy hulle uiteindelik eens en vir altyd van die ellendige onderdrukkers, die Romeine, sou verlos. Die groepie wyse manne uit die Ooste het verkondig dat 'n koning gebore is. Dit het soos 'n veldbrand deur Jerusalem versprei. Waar kan ons die koning van die Jode kry? Koning, koning … wat bedoel julle? En so kom die wyse manne aan by 'n klein babakoning êrens in 'n eenvoudige huisie.

Kan dit die beloofde Verlosser wees? Dit het na 'n grap gelyk. Die begin van Jesus se lewe was vreemd. Maria, wat nog nooit by 'n man geslaap het nie, word swanger … deur die Heilige Gees.

Dit is 'n vreemde begin. Stel jou voor dat jy van 'n jong vrou in jou gemeente hoor wat ongetroud swanger raak. Dit is iets waaroor mense agter hulle hand praat. Jesus is die seun van 'n ongetroude vrou – 'n buite-egtelike kind. Dit is hoe mense dit toe gesien het.

Gebed: Vader, laat ek met nuwe oë na Jesus kyk – en na die vreemde begin van sy lewe. Wys my wat my eintlike verwagting van Jesus moet wees. Amen.

Previous article: Wie is hierdie man? God word mens - 7 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Hoe het dit begin? - 5 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.