Wie is hierdie man? Van kind tot Verlosser - 12 September 2016
Danny Fourie
Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom. Lukas 2:40
Klassieke kinderverhale spreek tot ʼn mens se verbeelding. Veral diegene wat oor 'n suksesverhaal handel. Die koerantverkoper wat uiteindelik die redakteur van 'n invloedryke koerant geword het. Die jong seun uit 'n township wat parlementslid geword het. Films en boeke oor sulke verhale is gewoonlik treffers.
Het jy al oor die jong Jesus nagedink? Oor Hom lees ons in die Bybel van geen heldeverhaal nie. Dit is vreemd. Met ons kennis van die opvoedkunde sê ons dat 'n kind in sy eerste lewensjare gevorm word. Maar in die Bybel is daar oor Jesus niks hiervan nie.
'n Mens kan wel oor die jong Jesus fantaseer. Hoe sou Hy as jong seun gewees het? Ek sien Hom in sy pa se werkswinkel loop. Was Hy 'n kind wat soos enige ander kind grootgeword het? Of het Hy nooit kattekwaad gedoen nie? Hy het tussen hout, saagsels, gereedskap en spykers grootgeword het – 'n eenvoudige omgewing. Die seun van 'n timmerman uit die werkersklas. Later in sy lewe is Hy steeds met hierdie afkoms van Hom gekonfronteer. Hy het met sy maatjies gespeel, leer lees, skryf en glo. Die Bybel slaan hierdie tydperk oor. Ons lees van sy besnydenis op die agtste dag en oor die vlug na Egipte. In die daaropvolgende deel is Hy al twaalf jaar. Daarna spring die Bybel oor op die laaste paar jaar waarin Jesus aktief opgetree het.
Jesus was twaalf jaar toe Hy vir die eerste keer voor 'n groter publiek opgetree het, vertel Lukas. Ons lees van enkele besondere dinge. Dat Hy groot en sterk geword het, vol wysheid en dat die genade van God op Hom was. Hy het dus sterker, wyser geword en God self het Hom met wysheid gevul.
Gebed: Here Jesus U was 'n gewone seun, maar tog anders. Op twaalf was U sterk en wys en die Vader se genade was op U – waarlik Seun van God. Toegerus om Verlosser te wees. Amen.