Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie man? Nie net woorde nie, maar dade - 9 September 2016

Danny Fourie

“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien’  Lukas 20:13

Dit is wonderlik dat God sy mag en heerlikheid afgelê het en 'n plek onder die mense ingeneem het. Uit ervaring het God geweet hoe stug en onbelangstellend mense is en dat hulle nie in Hom sou glo nie. Dit was 'n gewaagde stap van God om die risiko te loop om na 'n planeet te kom wat bekend is vir sy terrorisme en mafiabedrywighede en by mense te gaan woon wat bekend was dat hulle profete vermoor en verwerp. God het soveel geloofswerkers (profete) al gestuur en hulle is almal vermoor. Toe sê God: “Ek stuur my geliefde Seun. Hulle sal Hom ontsien.” Hulle sal Hom ontsien?

Eeue lank is die koms van die groot Verlosser aangekondig. Toe is Hy hier. Dit het alles begin met die geboorte van 'n kind. God het die daad by sy woord gesit en gedoen wat Hy voorspel het. God het nie in die hemel gebly nie, maar Hy het aarde toe gekom. Die Woord het vlees geword. Die voorspelling het waar geword.

God het eers die wet op Sinai gegee, toe rigters aangestel, toe konings laat heers en later profete. Hulle het almal gesê: “Gaan terug na God.” Maar dit het nie gewerk nie. Die mense het bly wegloop van God en hulle van God vervreem.

Toe kom D-Dag. God self land op aarde. As niks dan help nie, sal Ek dit self doen. Ek sal julle kom terughaal en tuis bring. Ek sal vir eens en vir altyd vir julle laat sien hoe volmaak liefdevol en regverdig Ek is.

Met die geboorte van Jesus volg God 'n nuwe benadering. Nie meer 'n afstand tussen God en mens nie – 'n kloof nie – nie meer mense namens God nie, maar God kom self.

Gebed: Dankie Here dat U altyd doen wat U sê. By U bly dit gelukkig nooit alleen by mooi woorde nie. Soos wat U voorspel het, het U u Seun gestuur. Laat ek die wonder raaksien. Amen.

Previous article: Wie is hierdie man? Van kind tot Verlosser - 12 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? God buig neer na ons - 8 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.