Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie Man? Sagmoedig of sag - 27 September 2016

Danny Fourie

Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. Markus 11:15

Ons noem mense met 'n sagte karakter sommer vinnig slap. Nou ja, daar kan 'n verskil wees tussen sagmoedig en sag. Jesus was sagmoedig, maar dit beteken nie dat Hy geen ruggraat gehad het nie. Hy het gestaan vir dit waarin Hy geglo het.

'n Sagmoedige persoon is iemand wat sag van gemoed of van natuur is, nie bars en streng nie. By Jesus het mense uitermate op hul gemak gevoel. Hy het hulle aanvaar soos wat hulle was. Hulle kon na Hom toe kom met hulle vuilheid en gebreke. Jesus het nooit met 'n ompad om mense geloop nie. Nooit het Hy sommer iemand langs die pad laat lê nie. Sy openheid was indrukwekkend. Sagmoedigheid is om na iemand se moontlikhede te kyk en nie net na sy of haar gebreke nie.

'n Mens kan Jesus se sagmoedigheid sien in sy werklike belangstelling in mense. Hy het nooit oppervlakkige praatjies gemaak nie. Hy het na die diepste nood gesoek. Agter die opsigtelike probleme het Hy na die oorsaak gesoek.

Stel jou voor jy kom by die dokter met rooi kolle oral op jou lyf. Die dokter maak die diagnose: masels. Vervolgens plak hy op elke rooi kol 'n pleister. Het die dokter nou gek geword? Die kolle is simptome, die ware siekte sit in jou bloed. Jesus is geïnteresseerd in die siekte wat in die kern van jou bestaan skuil: die sonde. Hy wil jou hart bereik en met sy liefde jou diepste nood en eensaamheid aanraak.

Dit noem ek sagmoedigheid. Werklike bewoënheid met mense. Soms deur heel duidelik die waarheid vir iemand te sê. Dit is meer sagmoedig van jou pa of vrou dat hulle jou soms aanvat, as wat hulle jou maar altyd jou gang laat gaan.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U my so tuis by U laat voel. Dankie vir u sagmoedigheid met my, maar dat U tog my hart en my diepste wil aanraak deur reguit met my te praat. Amen.

Previous article: Wat het hierdie Man kom doen? Regter en ook middelaar - 28 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie Man? Sy karakter is seldsaam - 26 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.