Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is hierdie Man? Sy karakter is seldsaam - 26 September 2016

Danny Fourie

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Matteus 5:5

Worstel jy ook soms met jou karakter? Ek het ook slegte kante waarmee ek behoorlik worstel. So het elke mens karaktereienskappe waarmee jy worstel of waaroor jy deur ander gekonfronteer word. Mense waardeer jou oor sommige persoonlike eienskappe en oor ander veroordeel hulle jou. “Moet tog nie so bot wees nie.” “Wat is jy vandag weer so iesegrimmig?” Ons is maar hard op mekaar, min geduld en geneig om net die negatiewe te sien. 'n Mens het maar min ruimte om te wees wie jy is, met jou goeie en slegte kante.

Miskien is Jesus se karakter wel die indrukwekkendste aspek van Hom. Ons lê altyd nadruk op wat Hy gedoen het, maar sien ons ook wie Hy is? Wat sy karakter betref, was Jesus maar 'n vreemde eend op die dam. Jesus self is meer geïnteresseerd in wie jy is as wat jy doen. Die bergrede lê veral klem op wie jy is. Ons lees daar oor sagmoedigheid, geduld en mense wat vrede najaag. God wil jou hart hê. God soek egtheid. Die bergrede het 'n hekel aan skynheiligheid. Mooi woorde, gereeld na die kerk gaan en uiterlik ordentlik, maar intussen … Dit gaan vir God om jou motiewe. Waarom jy doen wat jy doen.

In Jesus sien ons 'n egte en mooi karakter. Sy karakter is seldsaam en daarom die moeite werd om te ondersoek. Vir die Skrifgeleerdes wat so baie van hulleself gedink en op die hoeke van die strate gestaan en bid het, het Jesus gesê: “Wees tog net normaal. Bid by jou huis in die kamer. Los jou hoogmoed.”

Niemand was vir Jesus onbelangrik nie. Jesus het geleer dat by God dit nie saak maak of jy die direkteur of die skoonmaker is nie. By die kruis val alle verskille weg. Elkeen het Jesus Christus en sy vergewing nodig.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U so 'n unieke karakter het, dat U my raaksien soos wat ek is en nie wat ek doen nie. Help my om meer soos U te word. Amen

Previous article: Wie is hierdie Man? Sagmoedig of sag - 27 September 2016 Prev Next article: Wie is hierdie man? Jesus se mag om sonde te vergewe - 23 September 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.